PRETORIA – Die Springbokafrigter, Rassie Erasmus, het aangedui dat verskeie van sy ervare spelers volgende Saterdag teen Wallis in Durban kan terugkeer nadat hy teen Skotland ‘n minder ervare span die veld ingestuur het.
Die Springbokke het Skotland Saterdag op Loftus Versfeld met 42-28 geklop in hul tweede wedstryd van die Nasieskampioenskap.
Erasmus het 10 veranderinge aan die span aangebring, met die aanvangspan wat oor 429 toetswedstryde se gesamentlike ervaring beskik het. Jesse Kriel (88), Pieter-Steph du Toit (96) en Handré Pollard (85) het saam meer as die helfte van dié ervaring verteenwoordig.
Skotland se afrigter, Gregor Townsend, het daarenteen ‘n span gekies met 628 toetswedstryde se gesamentlike ervaring.
Erasmus het ná die wedstryd gesê die span vir die laaste wedstryd van die Juliereeks sal waarskynlik ‘n kombinasie van ervare spelers, eksperimentering en spelers wees wat van beserings terugkeer.
“Dit sal waarskynlik ‘n kombinasie wees,” het Erasmus gesê.
“Jy kyk vandag na spelers soos Ox Nché, Malcolm Marx, Siya Kolisi, Eben Etzebeth, Lood de Jager, Franco Mostert, Cobus Reinach, Damian de Allende, Cheslin Kolbe, Kurt-Lee Arendse, Canan Moodie en Sacha Feinberg-Mngomezulu. Daar is ook spelers soos Morne van den Berg wat terugkeer.”
Volgens Erasmus het die afrigtingspan doelbewus ‘n waagstuk teen Skotland geneem.
“Nie omdat die spelers nie goed genoeg is nie, maar omdat hulle nog nie baie saam gespeel het nie. Volgende week behoort ons weer spelers te hê wat ten volle fiks is.”
Hy het ook laat blyk dat hy teen Wallis graag ‘n span wil kies wat oor meer toetservaring as die besoekers beskik.
Erasmus het intussen sy verbasing uitgespreek oor die gedwonge onttrekking van die veelsydige agterspeler Ethan Hooker, wat vroeg in die tweede helfte die veld moes verlaat nadat sy elektroniese mondskerm ‘n moontlike harsingskudding aangedui het.
Hooker het sy terugkeer gemaak nadat hy vroeër vanjaar ‘n skouer ontwrig het.
“Ek verstaan nie regtig Ethan Hooker se harsingskudding nie. Ons het nie die voorval gesien nie, maar sy mondskerm het ‘n waarskuwing gegee. Hopelik sal hy wel speelgereed verklaar word,” het Erasmus gesê.
Die Springbokafrigter het bygevoeg dat hy gehoop het Hooker sou langer op die veld kon bly om wedstrydfiksheid op te bou en moontlik vir Jesse Kriel ‘n ruskans te gee.