WILLISTON – Die groot getalle geitjies wat onlangs teen skuurmure in die Karoo opgemerk is, is geen rede tot kommer nie en vorm geen gevaar vir mense nie, sê die herpetoloog Johan Marais.
Marais, mede-eienaar van die Kokerboom-navorsingstasie naby Springbok en buitengewone lektor aan die Noordwes-Universiteit, sê die diere wat in die Williston-omgewing afgeneem is, is Bibron se geitjie (Chondrodactylus bibronii), ‘n algemene spesie in dié deel van die land.
Volgens hom is dit heeltemal normaal dat groot getalle van die geitjies op een plek saam voorkom. Hulle is tussen 12 cm en 14 cm lank en tel onder Suid-Afrika se groter geitjies.
Marais verduidelik dat die diere insekte vreet en daarom dikwels skure verkies, waar dit warmer as buite is en volop kos beskikbaar is. Hoewel hulle baie insekte uitroei, mors hulle ook heelwat.
Hy sê plaaswerkers raak dikwels onnodig paniekerig wanneer hulle die geitjies sien, maar beklemtoon dat die diere nie skadelik vir mense is nie.
Volgens inligting op die wetenskaplike platform iNaturalist is Bibron se geitjie ook as ‘n modelorganisme in bioruimtevaartnavorsing gebruik om die uitwerking van ruimtereise op die morfologie en fisiologie van gewerwelde diere te bestudeer.
Gideon Hoon, ‘n afgetrede boer van Bethulie naby Williston, sê hy het die geitjies ontdek nadat hy onlangs ‘n skadunet in ‘n skuur opgelig het.
“Daar was ‘n massa geitjies,” vertel hy. “Dit is nie die klein huisgeitjies nie, maar daardie grootes wat amper soos klein krokodilletjies lyk.”
Volgens Hoon kom die geitjies in die somer soms huise binne wanneer vensters oopstaan, waarna dit moeilik is om hulle weer uit te kry.
Hy sê baie plaaswerkers glo steeds die geitjies is giftig, hoewel dit nie die geval is nie. Die diere skuil ook gereeld onder sinkplate en is gewoonlik mak wanneer hulle teen mure sit.
Nog ‘n boer uit die Williston-omgewing, De Witt Hodgson van Witvlei, sê hy sien gereeld van die geitjies op sy plaas, maar het nog nooit tevore soveel op een plek bymekaar gesien nie.
Hy voeg by dat baie mense steeds bang is vir die geitjies en verkeerdelik glo dat ‘n byt dodelik kan wees.