LONDEN – Die Vrouetennisvereniging (WTA) gaan voortaan van alle spelers vereis om ‘n genetiese geslagstoets te ondergaan voordat hulle aan toernooie op die WTA-toer mag deelneem.
Die nuwe geskiktheidsbeleid, wat Dinsdag in werking tree, bepaal dat spelers ‘n wangdepper, bloed- of speekselmonster moet verskaf om vir die teenwoordigheid van die SRY-geen te toets. Dié geen vorm deel van die Y-chromosoom en speel ‘n rol in die ontwikkeling van manlike geslagskenmerke.
Spelers hoef die toets slegs een keer in hul leeftyd af te lê. Slegs spelers wat negatief toets vir die SRY-geen sal outomaties vir deelname aan die WTA-toer kwalifiseer. Indien ‘n speler positief toets, sal verdere mediese ondersoeke gedoen word voordat ‘n besluit oor haar deelname geneem word.
Die beleid vereis ook dat spelers ‘n verklaring onderteken waarin hulle erken dat dissiplinêre stappe teen hulle geneem kan word indien hulle weier om die toets te ondergaan.
Die WTA se vorige beleid, wat in 2024 bygewerk is, het transgender vroue toegelaat om deel te neem mits hul testosteroonvlakke vir die voorafgaande twee jaar deurlopend onder 2,5 nanomol per liter gebly het.
Volgens die WTA is daar tans geen bekende transgender vroue wat op die WTA-toer meeding nie.
Die beheerliggaam het gesê die nuwe beleid is daarop gemik om gelyke sportgeleenthede vir vroue te bevorder en billike mededinging in professionele vrouetennis te handhaaf.
Volgens die WTA is die beleid ná oorlegpleging met lede en met inagneming van ontwikkelende standaarde in vrouesport hersien. Die raad het daarna ‘n nuwe beleid goedgekeur wat vanaf 2026 op biologiese geslag gegrond sal wees.
Die organisasie het bygevoeg dat hy erken die onderwerp is sensitief en kompleks en dat die beleid met respek en waardigheid toegepas sal word.
Die beleidsverandering volg nadat Wêreldatletiek in September 2025 genetiese geslagstoetse vir atlete ingestel het wat in die vrouekategorie aan wêreldranglyskompetisies wil deelneem. Wêreldboks het in Mei 2025 ook verpligte SRY-toetse vir deelnemers in die vrouekategorie goedgekeur.