Altesaam 28 jong sportlui uit Orania het vanjaar hul gemeenskap by die 35ste Bokkieweek verteenwoordig, waar sowat 2 600 Afrikanerkinders van regoor Suid-Afrika aan rugby, netbal en hokkie deelgeneem het.
Die toernooi, wat van 6 tot 10 Julie deur Afrikaner Volkseie Sport (AVS) aangebied is, het deelnemers van regoor die land byeengebring.
Die Orania CVO-skool het ‘n sterk verteenwoordiging gehad, met 24 leerders wat vir die Beweging vir Christelike Volkseie Onderwys (BCVO) se Bokkieweekspanne gekies is. Daarbenewens het nog vier Oraniërs Griekwas verteenwoordig, onder wie twee leerders van Volkskool Orania.
Volgens AVS bied die Bokkieweek Afrikanerkinders die geleentheid om op nasionale vlak aan ‘n Afrikanertoernooi deel te neem.
Meer as 600 beamptes, saam met duisende toeskouers, het die toernooi bygewoon.
Orania het vroeër vanjaar ook ‘n rol in die Bokkieweekprogram gespeel toe die dorp in April gasheer was vir die o. 25-Bokkieweektoernooi.
Die Orania Beweging sê die gemeenskap se deelname aan Bokkieweek beklemtoon sy passie vir onafhanklike Afrikanerinstellings. Volgens die beweging kies Afrikaners, ondanks wat hy beskryf as omstrede publikasies deur die hoofstroommedia en aanvalle deur vyandige politici, om eerder hul eie instellings op te bou en te vestig.
Die beweging het die Orania-deelnemers met hul prestasies gelukgewens. Drikus Truter het ook besondere erkenning ontvang nadat hy vir die Gazelle-span van die Bokkieweek gekies is.