KAAPSTAD – Die vonnisoplegging van Iain Wares, wat vroeër aan onsedelike aanranding van ‘n 12-jarige leerling skuldig bevind is, is Woensdag in die Wynberg-streekhof uitgestel nadat sy regsverteenwoordiger gesê het hy is weens gordelroos en die newe-effekte van sy medikasie nie in staat is om die verrigtinge te volg nie.
Wares, ‘n voormalige onderwyser aan die Laerskool Rondebosch Boys, is vroeër skuldig bevind aan die seksuele misbruik van ‘n leerling wat 12 jaar oud was toe die misdrywe meer as drie dekades gelede plaasgevind het.
Sy regsverteenwoordiger, William Fullard, het aan die hof gesê Wares is onlangs met gordelroos gediagnoseer en ervaar erge pyn. Volgens ‘n doktersbrief maak die medikasie hom slaperig en onvas op sy voete, wat sy vermoë om hofverrigtinge te volg, benadeel.
Fullard het die hof meegedeel dat die dokter verwag Wares sal vir ongeveer ‘n maand behandeling ontvang, maar die verdediging het slegs ‘n uitstel van twee weke versoek sodat sy toestand gemonitor kan word.
Staatsaanklaer Rafeeqa Cornelius het bevestig dat sy die mediese brief ontvang het, maar daarop gewys dat dit nie uitdruklik aandui wanneer Wares weer geskik sal wees om hofverrigtinge by te woon nie.
Sy het die hof versoek dat ‘n meer volledige mediese verslag ingedien word wat aandui wanneer Wares weer in staat sal wees om die verrigtinge te volg.
Cornelius het ook gesê die saak word onnodig vertraag en dat die staat dit so gou moontlik afgehandel wil sien.
Verder het sy die hof meegedeel dat die sielkundige verslag, wat ingevolge ‘n vorige hofbevel teen 7 Julie ingedien moes word, steeds nie ontvang is nie.
Fullard het gesê die verslag kon nie afgehandel word nie weens Wares se mediese toestand.
Wares bly intussen op borgtog van R10 000 hangende sy vonnisoplegging.
Die saak is tot 21 Julie uitgestel sodat ‘n meer volledige mediese sertifikaat aan die hof voorgelê kan word. ‘n Lasbrief vir Wares se inhegtenisneming is tot die volgende hofdatum oorstaan.
In sy skuldigbevinding het die streekhof die getuienis van die klaer, wat slegs as “Stephen” geïdentifiseer word, as geloofwaardig aanvaar en die verdediging se weergawe verwerp. Die hof het onder meer gewys op teenstrydighede in Wares se getuienis, insluitend sy ontkenning dat hy die klaer geken het, ondanks getuienis dat hy die seun onderrig en afgerig het.
Die voorspraakgroep Women & Men Against Child Abuse (WMACA) het intussen ‘n beroep op die hof gedoen om Wares uit die samelewing te verwyder en gewaarsku dat hy steeds ‘n gevaar vir kinders inhou. Die organisasie voer aan dat die verdediging herhaaldelik uitstel probeer verkry en sodoende die regsproses vertraag.
Wares veg terselfdertyd ook in ‘n afsonderlike hofsaak teen sy uitlewering aan die Verenigde Koninkryk, waar hy tereg moet staan op 90 aanklagte wat verband hou met beweerde seksuele en fisieke mishandeling van 65 seuns in Skotland oor ‘n tydperk van ongeveer 11 tot 12 jaar.