Die adjunkminister van Basiese Onderwys, Reginah Mhaule, sê alle laerskole in Suid-Afrika sal binne die volgende twee tot drie jaar kodering en robotika as deel van hul kurrikulum aanbied.
Mhaule het die aankondiging gemaak tydens die bekendstelling van ‘n kunsmatige intelligensie-, kodering- en robotikasentrum ter waarde van R1,9 miljoen by die Khulile Primêre Skool in Gqeberha in die Oos-Kaap.
Die sentrum is deur Isuzu Motors Suid-Afrika, in vennootskap met die Sifiso Learning Group, as deel van Mandelamaand geskenk.
Kodering en robotika leer leerders onder meer hoe om rekenaarprogramme te skryf, robotte en ander tegnologiese toestelle te programmeer, en ontwikkel vaardighede soos logiese denke, probleemoplossing en kreatiwiteit. Die vak is daarop gemik om leerders vir ‘n toenemend tegnologiegedrewe wêreld voor te berei.
Volgens Mhaule werk die regering saam met die private sektor om kodering en robotika na meer skole uit te brei sodat leerders beter vir ‘n tegnologiegedrewe toekoms voorberei kan word.
Sy het gesê byna twee derdes van die skole in Suid-Afrika bied reeds kodering en robotika aan, en die doel is om dit binne die volgende twee tot drie jaar na alle laerskole uit te brei.
“Ons beweeg vorentoe en binne die volgende twee tot drie jaar sal alle laerskole kodering en robotika aanbied. Tans bied byna twee derdes van die skole in Suid-Afrika reeds kodering en robotika aan, en ons sien daarna uit om al ons laerskole daarmee te bereik,” het Mhaule gesê.