EFF-leier Julius Malema is van verskeie kante gekritiseer nadat hy, kort ná sy skuldigbevinding Donderdag in die landdroshof in Oos Londen, uitlatings gemaak het waarin hy onder meer landdros Twanet Olivier van rassisme beskuldig het.
Dreigemente teen die staatsaanklaer, Joel Cesar, word intussen ondersoek, terwyl Malema ook moontlike regstappe in die gesig staar oor sy uitsprake oor die Oos-Kaapse premier, Oscar Mabuyane.
Malema het buite die hof verskeie aanvalle geloods teen Olivier, Cesar en Mabuyane. Hy het beweer Olivier is rassisties en gesê hy hoef nie meer in haar “lelike wit gesig” te kyk nie. Cesar is deur hom as arrogant bestempel, terwyl hy Mabuyane van akademiese bedrog beskuldig het.
Die DA, die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), Solidariteit en AfriForum het Vrydag almal skerp kritiek uitgespreek oor Malema se optrede en die gebeure wat daarop gevolg het.
AfriForum het die EFF van boeliegedrag beskuldig nadat hul verteenwoordigers buite die hof deur partyondersteuners gekonfronteer is.
Adv. Glynnis Breytenbach, DA-LP, het gesê Malema se bewering dat Olivier “rassisties” is, is roekeloos en skadelik, en ondermyn openbare vertroue in die regbank.
“Die vonnisoplegging van Malema dui op ’n belangrike oomblik in die herbevestiging van die beginsel dat alle individue, ongeag status of politieke invloed, onderworpe is aan die oppergesag van die reg. Die onafhanklikheid en gesag van ons howe bly die hoeksteen van ons grondwetlike demokrasie en hierdie uitkoms onderstreep dat niemand bo aanspreeklikheid verhewe is nie.”
Sy het bygevoeg dat Malema se reaksie diep kommer wek. “Sy ligsinnige etikettering van die betrokke landdros as ’n ‘rassis’ wek ernstige kommer wat ver bokant dié enkele saak strek. Sulke bewerings, gemaak sonder gestaafde bewyse en in die onmiddellike nasleep van ’n ongunstige uitspraak, loop die gevaar om openbare vertroue in die regbank te ondermyn.”
Breytenbach het benadruk dat dit volkome gepas is dat regspraak deur die korrekte kanale bevraagteken kan word. “Dit is hoe ’n gesonde grondwetlike demokrasie funksioneer. Maar om tot aanstootlike beskuldigings teen regspraktisyns oor te gaan, veral op gronde so ernstig soos rassisme, sonder enige geloofwaardige substansie, is roekeloos en skadelik.”
Sy het verder gewaarsku dat die ondermyning van instellings vir korttermyn politieke voordeel ’n gevaarlike presedent skep. “Indien politieke leiers toegelaat word om regspraktisyns te diskrediteer wanneer uitsprake nie met hul belange strook nie, loop dit die gevaar om minagting vir die howe te normaliseer. Dit bedreig die oppergesag van die reg self en maak die deur oop vir onstabiliteit.”
Die Solidariteit-beweging het ook Malema se uitlatings veroordeel en gewaarsku dat dit plaasvind teen die agtergrond van toenemende geweld teen regslui in Suid-Afrika. Die organisasie het ’n beroep op die Regterlike Dienskommissie (RDK) gedoen om die veiligheid van regspraktisyns te prioritiseer.
Die NVG het Vrydag ’n sterk waarskuwing uitgereik nadat dreigemente teen Cesar op die sosialemediaplatform X versprei is “deur ’n rekening wat voorgee om die EFF te verteenwoordig”.
Volgens die NVG sal die dreigemente aan wetstoepassingsowerhede gerapporteer word vir verdere ondersoek. “Sodanige gedrag ondermyn die regsoewereiniteit en hou ’n werklike risiko in vir die veiligheid en lewens van diegene wat toevertrou is om geregtigheid te handhaaf,” het die NVG gesê.
Malema het self Donderdag ’n aanval op Cesar geloods en gesê: “Die enigste ding wat ons moet doen, is om seker te maak dat hierdie aanklaer, wat arrogant is en aan kleinmannetjie-sindroom ly, ’n les geleer word.”
Hy het Cesar van onbehoorlike gedrag beskuldig en gesê ’n saak van meineed moet teen hom ingestel word. Volgens Malema het Cesar vooraf geweet dat sy medebeskuldigde, Adriaan Snyman, vrygespreek sou word en het hy glo aan hom gesê om sy vuurwapen te gaan haal voordat die uitspraak gelewer is.
Malema het ook tydens sy toespraak sy ondersteuners gevra dat Mabuyane in hegtenis geneem moet word, en beweer dat hy en ander ANC-amptenare oor “vals kwalifikasies” beskik.
Hierdie bewerings kom te midde van ’n lopende ondersoek deur die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) na die beweerde onreëlmatige toekenning van grade by die Universiteit van Fort Hare.
Mabuyane het bevestig dat hy Malema gaan dagvaar oor die bewerings van akademiese bedrog en het reeds sy regsverteenwoordigers opdrag gegee om die aangeleentheid te hanteer.
Die spanning het verder opgeloop toe lede van die EFF AfriForum-verteenwoordigers buite die hof gekonfronteer het. Carl Niehaus, EFF-LP, het saam met ander partylede Jacques Broodryk, AfriForum se woordvoerder oor gemeenskapsveiligheid, en sy kollegas aangespreek, met beskuldigings dat hul teenwoordigheid doelbewus provokatief was.
Broodryk het op sy beurt die EFF van boeliegedrag en intimidasie beskuldig, nadat daar glo fisiese kontak en beledigende taalgebruik was.
Volgens Niehaus was AfriForum se teenwoordigheid by die hof bedoel om spanning aan te blaas. “Die verhoor is ’n regse, polities gedrewe, rassistiese vervolging wat direk deur AfriForum georkestreer en aangevuur word,” het hy gesê.
Malema is Donderdag tot vyf jaar direkte tronkstraf gevonnis nadat hy skuldig bevind is op aanklagte wat verband hou met die Wet op Beheer van Vuurwapens.
Die saak spruit uit ’n voorval in 2018 toe hy ’n vuurwapen in die openbaar afgevuur het. AfriForum het destyds die saak by die polisie aangemeld.
Malema is egter nog nie in hegtenis geneem nie, aangesien sy regspan onmiddellik aansoek gedoen het om verlof tot appèl teen die skuldigbevinding en vonnis.
Landdros Olivier het die aansoek om appèl teen die vonnis toegestaan, maar nie ten opsigte van die skuldigbevinding nie. Malema is intussen op waarskuwing vrygelaat hangende die appèlproses.