Orania het Vrydagaand die bekendstelling van die splinternuwe I-reeks Ora-koeponne gevier, met groot belangstelling vanuit die gemeenskap.
Die geleentheid is in die gemeenskapsaal gehou, waar inwoners die nuwe ontwerpe vir die eerste keer kon sien. Die Ora, wat dikwels as Orania se eie “geldeenheid” beskryf word, bly ’n unieke plaaslike betaalmiddel wat op ’n 1:1-basis deur die Rand gerugsteun word en deur die Orania Sakekamer bestuur word.
Hoewel gewone Rande en bankkaarte steeds gebruik word, bied die Ora spesifieke voordele. Omdat dit slegs binne Orania geldig is, bly die geld plaaslik in omloop en dra dit by tot groter ekonomiese selfstandigheid. Dit maak dit ook minder aantreklik vir misdaad, aangesien die note buite Orania geen waarde het nie.
Die Ora speel ook ’n rol in die bevordering van taal en kultuur. Die note word plaaslik ontwerp en is volledig Afrikaans, met unieke simbole wat die gemeenskap se identiteit weerspieël.
Ekonomies help die stelsel om plaaslike besteding aan te moedig. Omdat die koeponne net in Orania gebruik kan word, kies inwoners eerder om plaaslik aankope te doen. Intussen het die Ora ook ’n gewilde item onder besoekers geword, wat dit dikwels as aandenking saamneem—iets wat in praktyk beteken dat hulle die plaaslike ekonomie ondersteun deur Ora’s aan te koop.
Die digitale weergawe, bekend as die dOra, maak dit verder moontlik om met selfone te betaal. Die stelsel werk direk tussen gebruikers se “beursies”, sonder ’n gesentraliseerde bankstelsel, wat transaksies eenvoudiger en goedkoper maak.
Daar was groot nuuskierigheid oor die nuwe reeks se ontwerp. Soos met vorige uitgawes is daar weer koeponne vir R10, R20, R50, R100, R200, en die nuwe toevoeging van R500 elk met ’n eie ontwerp binne ’n groter tema. Waar die vorige reeks op die Karoo se natuurskoon gefokus het, vertel die I-reeks ’n diep, deurdagte verhaal van die Afrikaner se geskiedenis en roeping.
Die reeks vorm elke noot deel van ’n groter historiese lyn. Die R10-noot beeld Jan van Riebeeck en die begin van volksplanting aan die Kaap uit.
Op die voorkant van die R20-noot is Andries Pretorius en op die agterkant Sarel Cilliers. Dit verwys na die Gelofte en Bloedrivier en die geestelike verbintenis wat daar gesluit is.
Op die R50-noot word Piet Joubert en die Eerste Vryheidsoorlog uitgebeeld. Dit beklemtoon die stryd van die Boererepublieke om hul onafhanklikheid en reg tot selfbeskikking te behou.
Die R100-noot vereer president M.T. Steyn en die Tweede Vryheidsoorlog. Die fokus val hier op opoffering en die swaarkry van ons volk gedurende hierdie tydperk, met die konsentrasiekampe en please wat afgebrand is.
Die R200-noot bring hulde aan Totius en die kulturele opbou van die volk. Dit beklemtoon die rol van taal, geloof en intellektuele arbeid in die voortbestaan van ons volk.
Die reeks sluit af met ‘n nuwe toevoeging tot die reeks- die R500-noot wat prof. Carel Boshoff en die stigting van Orania uitbeeld.  Hierdie noot verbind die historiese lyn met die hede en wys op ons volksuitlewing.
Die handtekeninge op die note het ook simboliese waarde: Elke noot in die I-reeks bevat aan die een kant die handtekening van ’n politieke- of grondidentiteit, en aan die ander kant ’n gemeenskapselement. Hierdie tweeledige benadering weerspieël die twee pilare waarop Orania gebou is: die fisiese ruimte (grond en bestuur) én die mense self (kultuur, ekonomie en gemeenskap).
Die I-reeks beklemtoon dat ware vryheid en selfstandigheid net kan standhou wanneer dit gegrond is in die erkenning van God as die hoogste Regter. Dit dien daarom nie bloot as ’n terugblik op die verlede nie, maar ook as ’n rigtingwyser vir die toekoms.