EFF-LP Carl Niehaus het ’n reeks parlementêre vrae aan kabinetsministers gerig oor onder meer die sogenaamde “wit volksmoord”, die 3 000 wit kruise wat onlangs in Washington geplant is, ongedokumenteerde buitelanders, werkloosheid en gebrekkige munisipale dienslewering.
Die vrae vir skriftelike beantwoording is Sondag by die Nasionale Vergadering ingedien.
Een van Niehaus se vrae is aan Ronald Lamola, minister van internasionale betrekkinge en samewerking, gerig. Hy wil weet watter diplomatieke en openbare kommunikasiestappe die regering gedoen het om wat hy as die vals bewering van ’n “wit volksmoord” in Suid-Afrika beskryf, teen te werk.
Niehaus verwys spesifiek na die 3 000 wit kruise wat op 26 September op die National Mall in Washington, DC, geplant is ter herinnering aan slagoffers wat tydens plaasaanvalle vermoor is.
Hy wil onder meer weet of die Suid-Afrikaanse ambassade in Washington enige stappe in reaksie daarop gedoen het.
Wil weet of optrede as hoogverraad beskou moet word
Niehaus vra Lamola ook of hy saamstem dat die optrede van Lex Libertas, AfriForum se uitvoerende hoof, Kallie Kriel, en Ernst Roets as hoogverraad beskou behoort te word en of stappe gedoen moet word om hulle aan te kla.
Die parlementêre vraag stel egter nie vas dat enige van die genoemde persone hoogverraad gepleeg het of dat hulle tans op so ’n aanklag teregstaan nie.
Munisipaliteite voor verkiesing onder die loep
Niehaus het ook vrae aan Velenkosini Hlabisa, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, gestel oor die toestand van munisipaliteite voor die plaaslike regeringsverkiesing op 4 November.
Hy wil weet hoeveel munisipaliteite tans ingevolge artikel 139 onder ingryping geplaas is en hoeveel as wanfunksioneel of in finansiële nood geklassifiseer word.
Hy vra ook watter ingrypings voor die verkiesing afgehandel sal word om water-, elektrisiteits- en vullisverwyderingsdienste in geraakte munisipaliteite te herstel.
Werkloosheid en ongedokumenteerde buitelanders
Nomakhosazana Meth, minister van indiensneming en arbeid, word gevra hoeveel volhoubare werksgeleenthede sedert 1 April deur openbare indiensnemingsprogramme geskep is en watter verdere maatreëls gedurende die res van die 2026/27-boekjaar ingestel sal word om jeugwerkloosheid aan te pak.
Statistieke Suid-Afrika se kwartaallikse arbeidsmagopname vir die tweede kwartaal van 2026 toon dat die amptelike werkloosheidskoers tot 33,6% gestyg het. Die getal werklose mense het met 345 000 tot 8,5 miljoen toegeneem.
Niehaus vra Leon Schreiber, minister van binnelandse sake, ook hoeveel ongedokumenteerde buitelanders sedert 1 Januarie gedeporteer is en hoeveel na raming nog in Suid-Afrika is.
Hy wil verder weet watter stappe gedoen is om die land se landgrense teen onwettige herbetreding te beveilig.
Water en elektrisiteit
Pemmy Majodina, minister van water en sanitasie, word gevra wat die huidige totale bedrag is wat munisipaliteite aan waterrade skuld.
Niehaus wil ook weet watter stappe die departement teen munisipaliteite beoog wat versuim om hul skuld te betaal, veral terwyl sommige huishoudings steeds onder onderbrekings in watervoorsiening gebuk gaan.
Kgosientsho Ramokgopa, minister van elektrisiteit en energie, word op sy beurt gevra om die onderskeid tussen beurtkrag en beurtvermindering (load reduction) uiteen te sit.
Niehaus wil weet of beurtvermindering werklik van beurtkrag verskil en of voortgesette beurtvermindering op kwesbaarhede in die nasionale netwerk en plaaslike verspreidingsnetwerke dui.
Hy vra verder watter maatreëls ingestel is om beurtkrag of beurtvermindering tydens die plaaslike regeringsverkiesing op 4 November te voorkom.
Eskom gebruik beurtvermindering in gebiede waar plaaslike netwerke oorlaai word, eerder as om ’n landwye tekort aan opwekkingsvermoë te bestuur.
Niehaus se vrae is op hierdie stadium aan die onderskeie ministers voorgelê; hul antwoorde is nog nie bekendgemaak nie.