’n Krieketliefhebber in Pakistan het wêreldwyd aandag getrek nadat hy ’n krieketbal met een hand gevang het terwyl hy agterop ’n bewegende motorfiets gesit het.

Mehran Khan, ’n werknemer van die departement van openbare gesondheidsingenieurswese, was ná werk op pad huis toe toe hy by ’n krieketveld in Mingora verbygery het waar ’n wedstryd van die Swat Premierliga aan die gang was.

Die kolwer, Abrar Lala, het ’n ses geslaan, waarna die bal oor die grens van die krieketveld na ’n aangrensende pad getrek het. Khan het sy vriend, wat die motorfiets bestuur het, gevra om sy kop te laat sak, waarna hy sy hand uitgesteek en die bal gevang het.

Khan, wat self krieket speel, sê hy het nie verwag dat hy die bal sou vang nie, maar kon dit deur God se genade regkry.

Volgens Khan het die organiseerders van die Swat Premierliga onmiddellik ná die vangs ’n geldprys van 10 000 Pakistanse roepees vir hom aangekondig. Die geldprys is deur die Pakistanse weermag befonds.

Khan, ’n inwoner van Marghazar, sê hy was verbaas toe hy uitvind dat die video van sy vangs oornag wyd op sosiale media versprei het. Hy het ook sy dankbaarheid teenoor God vir die geldprys uitgespreek.

Hy het verder bewerings ontken dat hy die krieketbal gehou het en gesê dat hy dit ná die vangs terugbesorg het.

Swat Strikers het GKR Dir met 34 lopies geklop. Khan het die organiseerders aangemoedig om die toernooi jaarliks aan te bied en dit as ’n uitstekende kompetisie beskryf.