’n Boek wat sowat 150 jaar gelede by ’n Australiese biblioteek geleen is, het eindelik sy weg teruggevind – en die man wat dit moontlik destyds uitgeneem het, het ’n besondere verbintenis met die Britse Parlementsgebou in Londen gehad.
Antiquities of Athens, ’n boek oor klassieke Griekse argitektuur, is vermoedelik in die middel-1870’s by die plaaslike biblioteek in Kiama, ’n kusdorp sowat 120 km suid van Sydney, geleen.
Die boek het dekades lank saam met ander familiedokumente in ’n teekis gelê wat in ’n kaggel geplaas is, waarna die kaggel toegebou is.
Die 77-jarige Ross Simmons vermoed sy oupagrootjie, John Simmons, het die boek destyds geleen en moontlik as ’n naslaanwerk vir sy loopbaan in argitektuur en bouwerk gebruik.
John Simmons het volgens sy familie tussen 1839 en 1844 in Londen studeer. Ná sy studies het hy as vakleerling-klipmesselaar met die bou van die Britse Parlementsgebou gehelp.
Hy het in 1857, op 27-jarige ouderdom, van Brittanje na Australië geëmigreer. Hy het aanvanklik in Newtown in Sydney gewoon en later na Kiama verhuis nadat hy die bou van ’n sandsteenkerk in die kusdorp gelei het.
Volgens Ross Simmons het sy oupagrootjie ’n groot belangstelling in argitektuur, konstruksie en bouwerk gehad. Hy vermoed die boek het waarskynlik op ’n rak in sy huis gestaan en as naslaanwerk gedien.
Die teekis waarin die boek en ander familierekords was, is sowat 30 jaar gelede tydens opknappingswerk ontdek. Die boeke is daarna aan Ross Simmons gegee om te bewaar.
Dit was egter eers sowat twee weke gelede dat hy van die boeke van nader ondersoek het. Toe hy Antiquities of Athens oopmaak, het hy op die tweede bladsy ’n Kiama Library-stempel ontdek.
Die biblioteek se destydse uitleenvoorwaardes verskyn ook binne-in die boek en bied ’n interessante blik op die reëls van die 19de eeu.
Lede kon normaalweg net een boek op ’n slag leen. Indien bewys kon word dat ses mense in dieselfde huishouding kon lees, kon drie boeke egter uitgeneem word.
Mense wat onder die invloed van drank was, is verbied om boeke te leen. Laat boeke het ’n boete van drie pennies per week opgelewer.
Volgens die biblioteek sou die opgehoopte boete £97 beloop het – gelykstaande aan sowat AU$28 000 in vandag se geld wanneer inflasie verreken word.
Die Simmons-familie hoef egter nie dié bedrag te betaal nie, aangesien die biblioteek die boete kwytgeskeld het.
Michelle Hudson, bestuurder van Kiama Council se biblioteke, sê die teruggekeerde boek het reeds heelwat belangstelling ontlok, met mense wat van sowat 40 minute ver gereis het om dit te kom besigtig.
Die boek het ’n mate van waterskade opgedoen, maar is volgens Hudson andersins in ’n goeie toestand. Dit bevat gedetailleerde illustrasies, waaronder uitvoubladsye met presiese afmetings van monumente in Griekeland.
Kiama se plaaslike raad het in 1872 ’n toelaag van £200 ontvang om die dorp se biblioteek te stig. Die versameling het destyds uit minder as 1 000 boeke bestaan, met Antiquities of Athens as nommer 506 gemerk.
Dit kan nie met sekerheid vasgestel word wie die boek oorspronklik geleen het of presies wanneer dit uitgeneem is nie, aangesien die biblioteek se uitleenrekords uit dié tyd verlore gegaan het. Dat John Simmons die lener was, bly dus sy agterkleinseun se vermoede.
Ná sy besonder lang afwesigheid sal die boek nie weer uitgeleen word nie. Dit is by die biblioteek se versameling spesiale items gevoeg en kan op versoek besigtig word.
Hudson het geskerts dat hulle nie die gevaar wil loop om nog 150 jaar te wag voordat die boek weer terugkom nie.
Ross Simmons glo sy oupagrootjie sou bly gewees het dat die boek uiteindelik aan die biblioteek terugbesorg is.