Reddingswerkers in Laos het vyf inwoners lewend in ’n oorstroomde grot gevind nadat hulle vir ’n week lank vasgekeer was ná swaar reën en grondverskuiwings.
Twee ander mense wat saam met hulle was, word steeds vermis. Reddingspanne van Laos en Thailand gaan voort met die soektog.
Die sewe inwoners van die Xaysomboun-provinsie het verlede Woensdag die grot binnegegaan op soek na goud en wild, maar kon nie uitkom nie nadat die ingang deur vloedwater en modder versper is.
Video’s wat deur reddingswerkers gedeel is, wys hoe duikers deur nou, modderige gange kruip wat byna heeltemal onder water was.
Bounkham Luanglath van die Laotiaanse organisasie Rescue Volunteer for People sê die span is verlig nadat die vyf mense lewend gevind is.
“Ek bewe nog steeds. Ons span het dit reggekry,” het hy gesê.
Die grotstelsel strek diep ondergronds en sommige dele is volgens reddingswerkers net sowat 50 sentimeter breed.
Die reddingsorganisasie het op sosiale media bevestig dat vyf mense veilig gevind is en dat die soektog na die twee vermistes voortgaan.
Die Thaise redder, Kengkach Bangkawong, sê die groep is Woensdagmiddag gevind.
Die Finse grotduiker, Mikko Paasi, het vroeër verduidelik dat reddingswerkers deur honderde meters van nou gange, vloedwater, moontlike instortings en swak luggehalte moes beweeg. Hy het die grot as ’n verlate goudmyn beskryf.
Volgens hom was die groep sowat 300 meter van die uitgang vasgekeer.
Die grot lê sowat 120 kilometer noord van Laos se hoofstad, Vientiane.
’n Plaaslike redder, Baeng, sê inwoners gaan gereeld na die gebied om gate te grawe en kos te soek.
Kengkach was ook deel van die reddingspan wat in 2018 twaalf Thaise seuns en hul sokkerafrigter uit ’n oorstroomde grot in Thailand gered het.
Daardie reddingsoperasie het wêreldwyd groot aandag getrek en meer as 10 000 kundiges van regoor die wêreld betrek.