Klimaatsverandering wat deur menslike aktiwiteite veroorsaak word, maak dele van Suid-Afrika geleidelik gunstiger vir die verspreiding van malaria deur muskiete. Teen die einde van die eeu kan dit tot sowat 18 bykomende malariagevalle per 1 000 kinders lei, volgens ‘n nuwe studie.
Die studie, wat in die vaktydskrif Nature gepubliseer is, kombineer klimaatwetenskap, ekonomie en epidemiologie. Volgens die navorsers is dit die eerste omvattende studie wat klimaatsverandering regstreeks met langtermynneigings in aansteeklike siektes verbind.
Volgens die studie het die veranderende klimaat reeds gelei tot ongeveer 10,79 bykomende gevalle van malaria onder kinders per 1 000 in Suid-Afrika.
Dr. Chris Trisos, direkteur van die Climate Risk Lab by die Universiteit van Kaapstad se African Climate and Development Initiative en mede-outeur van die studie, sê klimaatsverandering wat deur die verbranding van fossielbrandstowwe en veranderinge in grondgebruik, soos ontbossing, veroorsaak word, het malaria na relatief koeler dele van Afrika, insluitend Suid-Afrika, laat versprei.
Volgens Trisos is KwaZulu-Natal, Limpopo en Mpumalanga die Suid-Afrikaanse provinsies wat die swaarste geraak word. Omdat hierdie dele van Suid-Afrika histories min malaria gehad het, kan hul gesondheidstelsels en gemeenskappe minder voorbereid wees om die siekte te hanteer.
Die studie voorspel dat Mpumalanga die grootste toename in malariagevalle sal ervaar.
Mede-outeur Tamma Carleton van die Universiteit van Kalifornië in Berkeley sê klimaatsverandering maak malaria nie bloot erger of minder ernstig nie, maar verskuif die siekte na nuwe gebiede. Volgens haar kan sommige huidige hoërisikogebiede verligting ervaar, terwyl nuwe risikogebiede elders ontstaan.
Die navorsers beklemtoon egter dat die bevindings ook rede tot hoop bied. Mede-outeur Colin Carlson van Yale-universiteit sê bestaande pogings om malaria uit te roei het die uitwerking van klimaatsverandering reeds met bykans 200 keer teengewerk.
Trisos sê Suid-Afrika kan sy malaria-voorkomings- en beheerprogramme versterk om die verwagte toename in gevalle te beperk. Volgens hom sal beter toesig, voorkoming en behandeling ‘n groter invloed hê as die toename in malariagevalle wat klimaatsverandering kan veroorsaak.