‘n Verwoestende veldbrand in die suidweste van Frankryk het tot die ontdekking van sowat 400 historiese stukke oorlogsammunisie gelei nadat ontploffings tydens die brand die aandag van owerhede getrek het.
Aanvanklik is vermoed dat die ontploffings deur ontploffende gassilinders veroorsaak is, maar plaaslike owerhede het later vasgestel dat die hitte van die brand waarskynlik ammunisie uit die Tweede Wêreldoorlog laat ontplof het.
Meer as 100 ontploffings is gedurende die tweede nag van die veldbrand in die dorp Le Porge gehoor. Die burgemeester, Martial Zaninetti, het die geluid as “die klank van oorlog” beskryf.
Ontmyningspanne het sedertdien sowat 400 historiese stukke oorlogsammunisie, waaronder Duitse en Franse mortierammunisie en tenkafweerammunisie, op die terrein gevind.
Volgens Zaninetti was die ammunisie in die grond begrawe sonder dat die munisipaliteit daarvan bewus was.
“Dit het links en regs gevlieg. Een van die stukke ammunisie het selfs deur ‘n huis gegaan,” het hy gesê.
Hoewel die meeste inwoners reeds na hul huise kon terugkeer nadat ontmyningswerk gedoen is, bly sekere gebiede, waaronder toegang tot die see, ‘n kampeerterrein en die dorp La Jenny, steeds vir die publiek gesluit.
Die veldbrand het meer as 180 huise vernietig en het ongeveer 10 dae lank in die Gironde-streek gewoed voordat dit onder beheer gebring is.
Foto’s van Maandag wys inwoners wat deur die verkoolde oorblyfsels van hul huise soek.
Die Franse eerste minister, Sébastien Lecornu, het brandbestryders vir hul werk bedank en gesê Frankryk het standvastig gebly te midde van ‘n ongekende krisis. Hy het bygevoeg dat die situasie in die Gironde-streek ‘n nuwe fase betree het namate ontruimde inwoners geleidelik na hul huise terugkeer.
Bos- en veldbrande het die afgelope twee weke groot dele van Europa geteister, veral Frankryk en Spanje, waar meer as 330 000 mense ontruim is.
In Frankryk alleen het die brande sowat 42 000 hektaar in die suidweste verwoes, wat dit volgens owerhede een van die grootste bosbrande sedert die Tweede Wêreldoorlog maak.