Die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) het ‘n ondersoek begin nadat bewerings opgeduik het dat die k-woord tydens ‘n interskolerugbywedstryd tussen Fairmont Hoërskool en The Settlers High School die naweek gebruik is.
Die departement het bevestig dat videomateriaal van Saterdag se wedstryd deel van die ondersoek sal vorm nadat die beweerde voorval wyd op sosiale media versprei is.
‘n Video wat aanlyn versprei word, wys hoe die skeidsregter die wedstryd onderbreek en albei afrigters nader roep nadat hy van ‘n beweerde rasseskeldwoord bewus geword het.
Volgens die video sê die skeidsregter daar is bewerings dat die k-woord gebruik is en dat hy dit nie sal duld nie. Hy voeg by dat hy die wedstryd ongelukkig sal moet staak.
WKOD-woordvoerder Bronagh Hammond het bevestig dat die departement van die bewerings bewus is en dat die saak ondersoek word.
Volgens Hammond sal die departement, indien nodig, ondersteuning, insluitend berading, beskikbaar stel. Sy het bygevoeg dat albei skole die aangeleentheid hanteer en versoek dat hulle die geleentheid gegun word om die ondersoek sonder inmenging of ontwrigting af te handel. Videomateriaal word as deel van die ondersoek nagegaan.
Fairmont Hoërskool en The Settlers High School het intussen afsonderlike verklarings uitgereik waarin hulle bevestig dat hulle van die beweerde voorval bewus is en dit in ‘n ernstige lig beskou.
Albei skole het onderneem om die saak deeglik te ondersoek ingevolge hul eie beleid, toepaslike wetgewing en die voorgeskrewe proses. Hulle het ook ‘n beroep op leerders, ouers en ander lede van die skoolgemeenskap gedoen om hulle daarvan te weerhou om ongeverifieerde inligting of inhoud op sosiale media te versprei, aangesien dit die ondersoek kan benadeel.
Volgens Sebastian Abrahams, voorsitter van die Bolandse Rugbyskeidsregtersvereniging, bestaan daar ‘n voorgeskrewe prosedure vir die hantering van rassistiese uitlatings tydens ‘n wedstryd.
Hy sê indien die betrokke speler geïdentifiseer kan word, moet die skeidsregter die speler van die veld af stuur, met die kapteins praat en die voorval ná die wedstryd in ‘n amptelike verslag aanteken.
Indien die speler nie onmiddellik geïdentifiseer kan word nie, kan die skeidsregter die kapteins byeenroep en hulle inlig dat ‘n rassistiese uitlating gemaak is. Volgens Abrahams sal iemand in skolerugby gewoonlik probeer om die verantwoordelike speler uit te wys.
Hy het bygevoeg dat die voorval ná die wedstryd by die rugby-unie aangemeld moet word, waarna die unie die saak verder hanteer.
Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie is ook vir kommentaar genader.