DERBYSHIRE – Die onlangse hittegolf in Brittanje het die patrone van ‘n sierlike tuin uit 1699 sigbaar gemaak wat sedert die 1730’s onder die grasperke van die Chatsworth-landgoed in Derbyshire versteek lê.
Die sogenaamde Great Parterre is in 1699 vir die eerste hertog van Devonshire ontwerp om die pas voltooide suidelike fasade van Chatsworth House aan te vul.
Ná temperature van meer as 30 °C in Mei, Junie en Julie, tesame met ‘n buitengewoon droë begin van Julie, het die grasperk só uitgedroog dat die patroon van die oorspronklike tuin weer sigbaar geword het.
Volgens ‘n woordvoerder van die Chatsworth-landgoed is dit nie die eerste keer dat die historiese tuin sy verskyning maak nie. Dieselfde verskynsel is ook tydens droogtes in 2018 en 2022 waargeneem.
Die ingewikkelde blomperke en wandelpaaie van die Great Parterre is in die 1730’s verwyder toe William Cavendish, die derde hertog van Devonshire, die landskap laat herontwerp het.
Volgens die landgoed het die gras wat destyds oor die voormalige blomperke en paadjies geplant is, korter wortels as die omliggende gras. Wanneer warm, droë toestande heers, verskroei dié gras vinniger, wat ‘n duidelike kontras skep en die kronkelende patrone van die oorspronklike tuin tydelik sigbaar maak.
Die verskynsel bied besoekers ‘n seldsame geleentheid om die patrone van die Great Parterre te sien – ‘n formele tuin in Europese styl wat in 1699 ontwerp is, maar sedert die 1730’s onder die grasperke versteek lê.