BRISBANE – ‘n Australiese vrou het geboorte geskenk aan vier identiese dogtertjies ná ‘n natuurlike swangerskap wat dokters as een uit 15 miljoen beskryf.
Jenitar Na’amoana (34), wat reeds vier kinders saam met haar man, Jortham, het, het op 14 Julie die vierling per keisersnee in die Royal Brisbane and Women’s Hospital in Queensland in die wêreld gebring. Die egpaar het volgens berigte nie beplan om nog kinders te hê nie en die swangerskap was heeltemal onverwags.
Die babas, Emily, Harriet, Alexa en Catherine, is op 28 weke en vier dae gebore en ontvang tans sorg in die hospitaal se neonatale intensiewesorgeenheid (NISE). Hulle sal na verwagting daar bly totdat hulle hul oorspronklike geboortedatum bereik en voldoende gewig opgetel het.
Volgens dr. Alexa Bendall, ‘n spesialis in moeder- en fetale geneeskunde, het die swangerskap spontaan ontstaan toe een bevrugte eier in vier embrio’s verdeel het.
Sy sê die kans dat so ‘n swangerskap natuurlik voorkom, is na raming een uit 15 miljoen. Volgens haar is hulle ook nie bewus van enige vorige geval van ‘n natuurlik verwekde identiese vierling in Australië nie.
Kenners sê die kans om natuurlik aan ‘n vierling geboorte te skenk, is sowat een uit 700 000, maar identiese vierlinge wat uit ‘n enkele bevrugte eier ontstaan, is veel skaarser.
Dr. Bendall sê dit is merkwaardig dat al vier babas gesond gebore is ondanks die hoë risiko wat met sulke veelvuldige swangerskappe gepaardgaan, veral wanneer die babas ‘n plasenta deel.
Hoewel sulke gevalle uiters skaars is, het dit al elders voorgekom. In 2020 het die Marr-egpaar van Dallas in die Amerikaanse deelstaat Texas ook natuurlik verwekde identiese vierlingseuns – Harrison, Henry, Hardy en Hudson – verwelkom.
Jenny Marr het gesê sy en haar gesin voel asof hulle “vier boerpotte in dieselfde genetiese lotery gewen het”. Sy het die Na’amoana-egpaar aangeraai om by ‘n vaste slaapskedule vir die babas te hou.
“Dis hoe julle gaan oorleef,” het Marr gesê. “Maak ook seker dat die ma na haarself omsien. Ek hoop die vier dogtertjies bly gesond en bereik al hul ontwikkelingsmylpale.”