Die Hooggeregshof van die Noord-Kaap het beslis dat ’n voormalige plaaseienaar onmiddellik weer toegang tot twee plase naby Kenhardt moet kry nadat hy volgens die hof onregmatig van die eiendomme en sy woning uitgesluit is.
Regter Mpho Catherine Mamosebo het ’n dringende spoliasiebevel ten gunste van Andries Swart toegestaan teen Gariep Systems (Edms.) Bpk. en die maatskappy se direkteur, Frederick Mark Slemeck.
’n Spoliasiebevel word toegestaan wanneer iemand onregmatig van sy besit of gebruik van eiendom ontneem word. Die doel daarvan is om die situasie onmiddellik te herstel, ongeag wie uiteindelik reg of verkeerd is in die onderliggende geskil.
Die saak het ontstaan nadat Swart die plase Warmbad Noord en Warmbad Zuid in 2024 aan Gariep Systems verkoop het. As deel van die ooreenkoms is bepaal dat hy vir die res van sy lewe huurvry op die plaas mag woon, tensy die bestuursooreenkoms wettig beëindig word. In ruil daarvoor sou hy steeds bestuursdienste op die plase verrig.
Die ooreenkoms het hom ook die uitsluitlike gebruik gegee van verskeie dele van die plaas, insluitend die hoofgeboue, ’n aanloopbaan, ’n vliegtuigloods en veefasiliteite.
Volgens hofstukke het Swart gereeld deur die land gereis met ’n kampeerwa, maar steeds sy bestuurspligte nagekom. Hy het ook sy meubels, vragmotor, gelisensieerde vuurwapens en beeste op die plaas gehou.
Die geskil het op 17 Mei vanjaar op die spits gedryf toe Swart ná die Africa Burn-fees in die Tankwa-Karoo na die plaas teruggekeer het.
Met sy aankoms is hy meegedeel dat hy nie meer toegang tot die plaas of sy woning het nie. Volgens sy getuienis het ’n plaasbestuurder gesê dat instruksies van Slemeck ontvang is dat hy nie meer welkom is nie en dat die slotte reeds vervang is.
Swart kon nie sy huis binnegaan of sy persoonlike besittings gaan haal nie.
Die hof het ook gehoor dat daar reeds spanning tussen die partye bestaan het. Gariep Systems het vroeër aangedui dat die plase in ’n natuurreservaat omskep sou word en dat Swart se beeste moontlik verwyder sou word.
Die maatskappy het aangevoer dat Swart sy besit van die plase prysgegee het deur gereeld vir lang tye weg te wees. Hulle het ook aangevoer dat die geskil eerder deur arbitrasie opgelos moes word en dat Swart se beweerde optrede teenoor iemand op die plaas op die verbreking van die ooreenkoms neerkom.
Regter Mamosebo het egter dié argumente verwerp.
Sy het beklemtoon dat ’n spoliasie-aansoek nie gaan oor kontrakte of wie uiteindelik die reg aan sy kant het nie. Dit gaan bloot daaroor of iemand onregmatig van sy besit ontneem is.
Die hof het bevind dat Swart steeds beheer oor die plase uitgeoefen het deur daar te woon, sy besittings daar te hou, sy vee daar te laat wei en sy bestuursverantwoordelikhede uit te voer.
Die vervanging van die slotte en die weiering van toegang was daarom onregmatig.
Die hof het Gariep Systems en Slemeck beveel om Swart se toegang tot die plase onmiddellik te herstel. Hulle moet ook alle sleutels, toegangskaarte, afstandbeheerders, heksleutels en ander toegangsmiddele aan hom oorhandig en enige hindernisse wat opgerig is om hom uit te sluit, verwyder.
Verder mag hulle nie met Swart se gebruik en besit van die plase inmeng totdat die hoofgeskil deur arbitrasie of ander regsprosesse afgehandel is nie.
Die hof het ook ’n strafkostebevel teen die maatskappy en Slemeck toegestaan. Hulle sal die regskoste op die prokureur-en-kliëntskaal moet betaal, insluitend die koste van twee advokate. Regter Mamosebo het bevind dat die omstandighede van die saak so ’n bevel regverdig.