Die Masakhane Cook Freeze-fabriek in Rosslyn, wat voorbereide maaltye aan verskeie Gautengse staatshospitale voorsien, is tydelik gesluit nadat E.coli-besmetting by die aanleg gevind is. Ten spyte hiervan verseker die Gautengse LUR vir Gesondheid, Nomantu Nkomo-Ralehoko, dat daar geen tekorte aan kos in die provinsie se hospitale is nie.
Volgens haar is berigte oor pasiënte wat glo sonder kos sit, misleidend en veroorsaak dit onnodige paniek onder families van pasiënte. “Alle pasiënte in Gauteng se staatshospitale ontvang steeds drie maaltye per dag,” beklemtoon sy.
Die sluiting volg ná ’n inspeksie deur die Tshwane-metro waartydens E.coli in die munisipale watertoevoer na die fabriek ontdek is. Alle produksie is daarna gestaak. “Die besluit is geneem om openbare gesondheid te beskerm en te verseker niemand word blootgestel aan onveilige kos nie,” sê Nkomo-Ralehoko. Geen siektegevalle is tot dusver aan die fabriekskos gekoppel nie.
Die LUR verduidelik dat noodplanne onmiddellik ingestel is om te verseker dat hospitale alternatiewe, voedsame maaltye ontvang wat direk deur die hospitale se eie voedselspanne voorberei word. Sy beklemtoon dat die veiligheid van pasiënte die hoogste prioriteit bly.
Intussen ondergaan die Masakhane-aanleg ’n intensiewe skoonmaakproses. ’n Nuwe watersuiweringstelsel word ook geïnstalleer om toekomstige risiko’s uit te skakel. Daar is egter nog geen aanduiding wanneer die fabriek sy bedrywighede volledig sal kan hervat nie.
“Ons neem omvangryke stappe om die situasie reg te stel,” sê Nkomo-Ralehoko. “Geen pasiënt in Gauteng se gesondheidsfasiliteite sal honger ly nie.”