Die Grondwetlike Hof het ‘n vorige uitspraak van die Wes-Kaapse Hooggeregshof bekragtig en dele van die Wet op Vlugtelinge ongrondwetlik en dus ongeldig verklaar.
Die uitspraak versterk die regsbeskerming van asielsoekers deur te bepaal dat prosedurele vereistes nie outomaties mense mag verhinder om asiel aan te vra nie.
Die hof het ook die wettigheid van die prosesse waardeur nuwe asielsoekers sedert ongeveer November 2023 toegang tot die asielstelsel geweier is, ongrondwetlik verklaar. Volgens die hof het dié prosesse daartoe gelei dat mense gearresteer, aangehou en gedeporteer is sonder dat hulle ooit ‘n onderhoud vir die bepaling van hul vlugtelingstatus gehad het.
Die saak is in Mei 2023 deur die Scalabrini-sentrum van Kaapstad en Lawyers for Human Rights aanhangig gemaak.
Die organisasies het die praktyk betwis waarvolgens immigrasiebeamptes nuwe asielsoekers ná voorlopige onderhoude oor hul toegang tot Suid-Afrika laat arresteer en aanhou het, sonder dat hulle die geleentheid gekry het om die gewone asielaansoekproses te volg.
Volgens die applikante het dié praktyk die gevestigde asielproses omseil en die beginsel van non-refoulement geskend. Dié internasionale regsbeginsel verbied lande om mense terug te stuur na plekke waar hulle vervolging of ernstige gevaar in die gesig staar.
In sy uitspraak, wat Dinsdag gelewer is, het die Grondwetlike Hof beslis dat asielsoekers nie slegs omdat hulle nie oor die vereiste dokumente beskik of versuim het om binne die voorgeskrewe vyf dae by ‘n Vlugtelingontvangskantoor aan te meld nie, vlugtelingstatus geweier mag word.
Die hof het erken dat mense wat uit konflikgebiede, vervolging of ander humanitêre krisisse vlug, dikwels nie die nodige dokumente kan bekom of streng administratiewe spertye kan nakom nie.
Die hof het verder beklemtoon dat elke asielaansoek op grond van sy eie feite en omstandighede beoordeel moet word. Owerhede mag nie slegs op tegniese of administratiewe vereistes staatmaak nie, maar moet elke aansoek individueel oorweeg om vas te stel of die persoon ingevolge Suid-Afrikaanse wetgewing vir vlugtelingbeskerming kwalifiseer.