BERLYN – ‘n Duitse palliatiewe sorgdokter wat daarvan aangekla word dat hy 15 van sy pasiënte vermoor het, sal na verwagting Woensdag hoor of hy skuldig bevind word.
Die 41-jarige dokter, wat ingevolge Duitse privaatheidswetgewing slegs as Johannes M. geïdentifiseer word, staan tereg op aanklagte dat hy tussen September 2021 en Julie 2024 twaalf vroue en drie mans doodgemaak het.
Volgens aanklaers het hy sy pasiënte met ‘n dodelike kombinasie van ‘n verdowingsmiddel en ‘n spierverslapper ingespuit. Hulle voer aan dat die middels die asemhalingspiere verlam het, wat binne minute tot asemhalingstilstand en die pasiënte se dood gelei het.
Aanklaers beskryf Johannes M. as iemand met “‘n lus vir moord” en voer aan dat hy geen ander motief gehad het as die daad van moord self nie.
Op minstens vyf geleenthede het hy na bewering ook die slagoffers se woonstelle aan die brand gesteek in ‘n poging om die misdade toe te smeer.
Een van die ernstigste voorvalle het volgens die aanklag op 8 Julie 2024 plaasgevind. Aanklaers beweer Johannes M. het dié oggend ‘n 75-jarige man by sy woning in Berlyn vermoor en enkele ure later ‘n 76-jarige vrou in ‘n ander deel van die stad doodgemaak. Volgens die staat het sy poging om die tweede misdaadtoneel aan die brand te steek, misluk omdat die vuur nie behoorlik posgevat het nie.
Die ondersoek het begin nadat versorgingsdienste onraad vermoed en die polisie ingelig het. Johannes M. is in Augustus 2024 in hegtenis geneem.
Die ondersoek het aanvanklik op vier sterfgevalle gefokus, maar die getal verdagte sterftes het met verloop van tyd toegeneem. Duitse owerhede ondersoek steeds dosyne ander sterftes wat moontlik met die dokter verbind kan word.
Johannes M. het Maandag in die hof erken dat hy “mense doodgemaak het” en gesê hy wanhoop oor homself. Volgens die Frankfurter Allgemeine Zeitung het hy gesê hy besef eers nou die omvang van die lyding wat hy veroorsaak het.
Die slagoffers was tussen 25 en 94 jaar oud en het almal ten tyde van hul dood palliatiewe sorg ontvang.
Die staat vra dat Johannes M. lewenslange tronkstraf opgelê word, dat sy moontlikheid van vroeë vrylating verder beperk word en dat hy lewenslank verbied word om weer as geneesheer te praktiseer.
Die saak herinner aan dié van die Duitse verpleegkundige Niels Högel, wat in 2019 lewenslange tronkstraf opgelê is nadat hy aan die moord op 85 pasiënte skuldig bevind is. In ‘n afsonderlike saak is ‘n palliatiewe verpleegkundige verlede jaar ook lewenslank tronk toe gestuur vir die moord op tien pasiënte en die poging tot moord op nog 27 deur middel van dodelike inspuitings.