Springbok-afrigter Rassie Erasmus en kaptein André Esterhuizen het geen verskonings aangebied nadat Suid-Afrika Sondag met 42-38 teen Australië in Perth verloor het nie.

Die Wallabies het teen rustyd met 24-17 voorgeloop en hul voorsprong ná 65 minute tot 42-17 vergroot. Die Bokke het in die laaste kwart sterk teruggeveg en die wedstryd tot op die einde lewendig gehou, maar kon nie die agterstand heeltemal uitwis nie.

Erasmus het ná die wedstryd gesê die Bokke kan niemand anders vir die uitslag blameer nie.

“Ons het in ’n Springboktrui teen Australië verloor en, ondanks al die ontwrigtings, het ons niemand anders as onsself om vir die uitslag te blameer nie,” het hy gesê.

‘Ons het nie goed genoeg gespeel nie’

Erasmus het erken dat daar probleme met die tegnologie tydens die wedstryd was en dat die horlosie byvoorbeeld soms aangehou loop het wanneer dit moes stop. Hy het dit egter duidelik gemaak dat dit nie as verskoning vir die nederlaag gebruik kan word nie.

“Dit het nie beïnvloed hoe ons gespeel het nie. Ons het dit beheer. Ons het nie vanaand goed genoeg gespeel om ’n sterker span te klop nie.”

Volgens Erasmus moet ’n span wat homself 25 punte agter bevind, eerstens na sy eie vertoning kyk.

“Wanneer jy 25 punte agter is, is daar niemand anders om te blameer as jouself nie. Ons het ’n bietjie gewaag, en sommige spelers het in ’n lang tyd nie veel saam gespeel nie, maar dit is nie ’n verskoning nie.”

Hy het bygevoeg dat die afrigtingspan self die span gekies en die wedstrydplan bepaal het.

“Ek het gedink ons het aan die einde ’n kans gehad, maar die beter span het die aand gewen.”

Wedstryd kan waardevol wees met oog op Wêreldbeker

Erasmus meen die wedstryd kan nietemin waardevolle ervaring bied met die oog op volgende jaar se Wêreldbeker in Australië.

Hy het daarop gewys dat Australië verbeter het en volgende jaar die gasheer van die toernooi sal wees.

“Ons kan hulle dalk in ’n belangrike uitspeelwedstryd ontmoet, en dit was goed om vanaand ’n voorsmakie van hulle te kry. Wanneer ons volgende jaar teen hulle speel, sal ons ’n bietjie meer van mekaar weet.”

Erasmus wou dit nie bloot as ’n geval van “lesse geleer” beskryf nie, maar het gesê dit was ’n waardevolle ervaring.

Esterhuizen: ‘Ons het onsself daar geplaas’

Esterhuizen, wat in Perth die 68ste Springbokkaptein geword het, het eweneens nie probeer om die nederlaag weg te verduidelik nie.

Hy het gesê die Bokke moes gedurende hul terugvegpoging daarop konsentreer om een drie op ’n slag aan te teken.

“Dit was redelik intens. Op ’n stadium het ons daarop gekonsentreer om een drie te kry, dan nog een, en dit stap vir stap te vat. Maar soos ons gesê het, ons moes nooit in daardie situasie gewees het nie.”

Volgens Esterhuizen het die Bokke hulself in die moeilike posisie geplaas.

“Ek dink die ondersteuners en mense wat die wedstryd gekyk het, het dit regtig geniet, maar ons behoort beter te wees en nie in sulke situasies te beland nie.”