Die nasionale departement van landbou stel voor dat spesifieke vereistes vir vryloop-pluimveevleis uit bestaande regulasies geskrap word. Aansprake oor dié produksiemetode sal eerder aan ’n nuwe stelsel vir registrasie en ouditering gekoppel word.
Willie Aucamp, minister van landbou, het die voorgestelde wysigings ingevolge die Wet op Landbouprodukstandaarde (Wet 119 van 1990) in die Staatskoerant laat publiseer. Belanghebbendes kan kommentaar op die voorstelle lewer.
Die voorgestelde verandering sal die beheer van dié produksie-aansprake na ’n nuwe bestuursbeheerstelsel verskuif.
Vryloopvereistes skuif na nuwe stelsel
Die huidige reëls, wat sedert 1992 geld, bepaal onder meer wanneer pluimveevleis as vryloop, oftewel free range, gemerk mag word.
Daarvolgens moet die voëls bedags deurlopend toegang hê tot buitelug-loopgebiede wat hoofsaaklik met plantegroei bedek is en waar hulle kan skrop en stofbad. Daar moet ook genoeg ruimte wees sodat die pluimvee kan beweeg.
Die departement stel nou voor dat dié bepalings uit die bestaande regulasies geskrap word omdat vereistes vir die aanspraak “Free range X” reeds deur die toepaslike bestuursbeheerstelsel vir vryloop-pluimveevleis gedek word.
Volgens die departement is die doel om duplisering en moontlike teenstrydighede tussen die produkspesifieke vereistes en dié van die geregistreerde bestuursbeheerstelsel te voorkom.
Hoe gaan die nuwe stelsel werk?
Regulasies oor bestuursbeheerstelsels is op 19 September 2025 gepubliseer en tree 12 maande later in werking.
Die stelsel skep ’n raamwerk waarvolgens aansprake oor die produksiemetodes van landbouprodukte geregistreer, geoudit en beheer word.
’n Pluimveeprodusent wat ’n bepaalde aanspraak oor sy produksiemetode wil gebruik, moet by die uitvoerende beampte vir landbouprodukstandaarde aansoek doen. Die aansoek moet binne 60 dae beoordeel word.
Indien die aansoek aan die vereistes voldoen, word ’n kennisgewing in die Staatskoerant gepubliseer waarin belanghebbendes die geleentheid kry om beswaar te maak. Indien daar geen beswaar is nie, of enige besware opgelos word, word die aanspraak in ’n openbare register opgeneem.
Die produsent moet daarna op eie koste die geregistreerde aanspraak deur ’n aangewese, gekwalifiseerde ouditeur laat oudit.
Vryloop een van 16 produksiemetodes
Die departement het in Junie 2026 sy voorneme aangekondig om 16 produksiemetodes as bestuursbeheerstelsels te registreer.
Vryloop vir eiers en pluimveevleis vorm een saamgestelde kategorie. Ander sluit onder meer skuur-eiers, graangevoerde eiers, organies geproduseerde produkte en produkte van diere wat op weiding grootgemaak is, in.
Eiers word deur hul eie regulasie beheer, waarin aansprake oor hok-, skuur- en vryloopproduksie afsonderlik omskryf en beheer word.
Pluimveebedryf en burgerlike groepe gryp in
Die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging (SAPV) was teen publikasietyd nie vir kommentaar beskikbaar nie. Die vereniging het egter reeds in 2024 en 2025 aangevoer dat die drie bestaande produksiestelsels vir eiers — hok-, skuur- en vryloopproduksie — in Suid-Afrika behou moet word.
Intussen het ’n koalisie van meer as 30 burgerlike en nie-regeringsorganisasies in Afrika, onder leiding van Animal Law Reform South Africa (ALRSA), aan die departement geskryf oor die voorgestelde standaarde vir produksiemetodes.
Die groep is bekommerd dat hok-eierproduksie van die voorgestelde standaarde vir produksiemetodes uitgesluit word.
Die voorgestelde veranderinge beteken dus dat spesifieke vryloopvereistes uit die bestaande pluimveevleisregulasies kan verdwyn, terwyl aansprake oor dié produksiemetode voortaan deur ’n geregistreerde en geouditeerde bestuursbeheerstelsel beheer word.