Fynbosheuning kan moontlik ‘n meer dermvriendelike behandeling vir die bakterie Helicobacter pylori (H. pylori) wees. ‘n Nuwe studie toon dat sekere Suid-Afrikaanse heunings die groei van die bakterie doeltreffend kan onderdruk.
H. pylori is ‘n bekende bakterie wat met chroniese maagontsteking, gastritis en pynlike maagsere verbind word. Hoewel antibiotika tans die gewone behandeling is, dui die studie daarop dat fynbosheuning moontlik ook ‘n rol in die bekamping van die bakterie kan speel.
Die studie, wat onlangs in die vaktydskrif International Journal of Food Science gepubliseer is, het 76 monsters van 25 verskillende plaaslike heunings ontleed om vas te stel hoe doeltreffend hulle die groei van H. pylori onderdruk en hoe hulle met probiotika reageer.
Die navorsers het bevind dat ongeveer ‘n derde van die heuningmonsters die groei van H. pylori net so doeltreffend onderdruk het as Manuka-heuning uit Nieu-Seeland, wat wêreldwyd vir sy medisinale eienskappe bekend is.
Van die doeltreffendste plaaslike heunings was fynbos-, boegoe-, sitrus- en koljanderheuning.
Nog ‘n belangrike bevinding was dat fynbosheuning goed saam met probiotika, oftewel voordelige bakterieë en giste, werk. Volgens die studie het die kombinasie van fynbosheuning en probiotika, veral Lactobacillus– en Lacticaseibacillus-spesies, die vermoë om H. pylori te onderdruk met tot 82,5% verbeter.
In plaas daarvan om die dermflora te benadeel, soos sommige antibiotika kan doen, dui die bevindings daarop dat fynbosheuning saam met probiotika kan help om skadelike siekteverwekkers te onderdruk.
Die studie het ook ‘n sterk verband gevind tussen die onderdrukking van H. pylori en hoër vlakke van waterstofperoksied (H₂O₂), wat natuurlik deur ensieme in rou heuning gevorm word. Volgens die navorsers help dié verbinding om skadelike maagbakterieë uit te skakel, terwyl dit steeds sag op ‘n mens se ingewande is.
Hoewel die resultate belowend is, moet die doeltreffendheid van fynbosheuning vir die behandeling van H. pylori en ander maagkwale in lewende organismes nog ondersoek word.