KALBASKRAAL – ‘n Boer en sakeman van Kalbaskraal beweer in ‘n beëdigde verklaring dat hy die afgelope paar jaar die slagoffer was van onregmatige optrede deur verskeie staatsinstellings en dat die strafregstelsel volgens hom teen hom ingespan is.
Mark Robert Dunbar Anderson sê die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), die Departement van Justisie en die Departement van Gesondheid was sedert Maart 2022 by optrede teen hom betrokke. Volgens hom is sy klagtes nooit behoorlik ondersoek nie en is sy grondwetlike regte herhaaldelik geskend.
Die verklaring hou verband met ‘n strafsaak waarin Anderson op ‘n aanklag van poging tot moord teregstaan ná ‘n skietvoorval op sy plaas naby Kalbaskraal. Volgens hom het hy op 11 Oktober 2025 onder ‘n groot boom op sy plaas gerus toe hy wakker geword het en Nelson Zola Jim met ‘n mes na hom sien aankom het. Anderson sê hy het Jim reeds geken weens vorige doodsdreigemente, aanrandings en ander voorvalle wat volgens hom oor ‘n lang tydperk plaasgevind het.
Anderson voer aan dat Jim sowat sewe meter van hom af was toe hy van sy kampbed afgerol en sy gelisensieerde pistool getrek het. Hy sê hy het een skoot afgevuur, waarna Jim gevlug het. Volgens Anderson het hy terselfdertyd nog ‘n persoon gehoor en glo hy daar was minstens twee aanvallers. Hy beskou die voorval as ‘n plaasaanval en sê hy het opgetree omdat hy geglo het sy lewe was in onmiddellike gevaar.
Hy sê die polisie is reeds verskeie kere voor die voorval oor Jim se beweerde doodsdreigemente en optrede ingelig en dat daar reeds ‘n interdik teen hom toegestaan is. Anderson voer verder aan dat hy geen vorige kriminele rekord het nie en dat hy sy vuurwapen slegs gebruik het om homself te verdedig.
Anderson sê hy is ná sy inhegtenisneming twee nagte in die polisieselle op Malmesbury en daarna nog drie nagte in die gevangenis aangehou voordat hy op borgtog vrygelaat is. Hy beweer ook dat hy in dié tyd nie behoorlike regsverteenwoordiging gehad het nie.
‘n Groot deel van sy verklaring handel oor wat hy beskryf as onreëlmatighede in die Malmesbury-landdroshof. Anderson beweer daar was verwarring oor hofdatums, dat hy sonder behoorlike regsverteenwoordiging moes verskyn en dat sekere hofamptenare en sy voormalige prokureur saamgespan het om hom te benadeel. Daarom het hy die saak by die Landdroskommissie aangemeld en versoek dat sy strafsaak na ‘n ander hof oorgeplaas word.
Anderson vra dat die aanklagte teen hom teruggetrek word. Hy voer aan dat die verloop van die saak só gebrekkig was dat hy nie meer glo hy kan ‘n billike verhoor in Malmesbury kry nie.
Die verklaring bevat ook bewerings oor onder meer beweerde vergiftigings, plaasaanvalle, pogings om hom onregmatig in ‘n hospitaal aan te hou en korrupsie binne staatsinstellings. Anderson vra dat die bevoegde owerhede al hierdie bewerings ondersoek.
Dit is nie uit die dokument duidelik of die SAPD, die Nasionale Vervolgingsgesag, die Departement van Justisie of die ander persone wat in die verklaring genoem word, reeds op Anderson se aantygings gereageer het nie.