PROVO – Tyler Robinson (23), wat daarvan aangekla word dat hy die konserwatiewe aktivis Charlie Kirk verlede jaar doodgeskiet het, het glo die dag ná die voorval aan sy voormalige kamermaat en lewensmaat gesê hy wens hy het dit nie gedoen nie.
Dié getuienis is Donderdag tydens Robinson se voorlopige verhoor in Utah gelewer toe ‘n video-opname van ‘n onderhoud met Lance Twiggs in die hof vertoon is.
“Hy het ‘n bietjie begin huil en gesê hy wens hy het dit nie gedoen nie. Daarna het hy net aangehou om besig te bly, waarskynlik om homself af te lei,” het Twiggs in die opgeneemde onderhoud gesê.
Volgens Twiggs het Robinson later gesê hy gaan óf met sy ouers praat óf homself aan die polisie oorgee.
Ondersoekbeamptes het getuig Robinson het hom later dieselfde dag aan die polisie oorgegee.
Die staat probeer tans die hof oortuig dat daar voldoende getuienis is om Robinson strafregtelik te laat verhoor. Hy staan tereg op aanklagte van moord met verswarende omstandighede en ses ander aanklagte. Die vervolging het aangedui dat hulle die doodstraf sal vra indien hy skuldig bevind word.
Robinson het nog nie op die aanklagte gepleit nie.
Hy word daarvan beskuldig dat hy Charlie Kirk (31), ‘n prominente konserwatiewe politieke aktivis en medestigter van Turning Point USA, op 10 September 2025 voor sowat 3 000 mense op die kampus van Utah Valley-universiteit doodgeskiet het.
Volgens die vervolging vorm Twiggs ‘n belangrike deel van hul saak. Aanklaers voer aan dat teksboodskappe tussen die twee neerkom op ‘n bekentenis deur Robinson.
Twiggs het beperkte immuniteit van vervolging ontvang in ruil vir sy opgeneemde verklaring en samewerking met ondersoekers.
Volgens aanklaers is ‘n handgeskrewe briefie onder Robinson se sleutelbord gevind waarop gestaan het: “Ek het die geleentheid om Charlie Kirk uit te haal en ek gaan dit doen.”
Volgens die teksboodskappe wat in die hof voorgelees is, het Twiggs later vir Robinson gevra: “Jy was nie die een wat dit gedoen het nie, of hoe?”
Volgens die vervolging het Robinson geantwoord: “Ek was. Ek is jammer.”
Toe Twiggs hom vra waarom hy Kirk geskiet het, het Robinson volgens die boodskappe geantwoord: “Ek het genoeg gehad van sy haat. Sommige haat kan nie wegonderhandel word nie.”
Die hof het ook foto’s gesien van die vermeende moordwapen – ‘n Mauser Model 98 .30-06-grendelgeweer met ‘n teleskoop – wat volgens ondersoekers in ‘n beboste gebied naby die universiteitskampus gevind is.
Die geweer het volgens ondersoekers een afgevuurde patroondop en drie onafgevuurde patrone bevat waarop verskillende boodskappe ingegraveer was.
Volgens ondersoekers is ‘n Dremel-graveergereedskap en patroondoppies van dieselfde kaliber later in Robinson en Twiggs se woonstel gevind. Een van die patroondoppies het die woorde “TEST SHOT” gedra.
Volgens ‘n verslag van die Amerikaanse Buro vir Alkohol, Tabak, Vuurwapens en Plofstof (ATF) stem die merke op die patrone ooreen met dié wat deur die Dremel-gereedskap uit Robinson se woning gemaak is. Die ondersoek het ook bevind dat die patroondoppies wat in Robinson se woning gevind is, met dieselfde geweer afgevuur is wat naby die kampus gevind is.
Die verdediging het egter ‘n forensiese deskundige geroep wat getuig het dat ‘n koeëlfragment wat uit Kirk se liggaam verwyder is, nie met sekerheid aan die betrokke geweer verbind of daarvan uitgesluit kon word nie, omdat daar onvoldoende mikroskopiese merke op die fragment was.
Regter Tony Graf sal ná afloop van die voorlopige verhoor besluit of die staat genoeg getuienis voorgelê het om Robinson op al die aanklagte strafregtelik te laat verhoor.