Bo-Karoo Opleiding (BKO) brei sy praktiese landbouopleiding op Orania verder uit met ’n belegging van sowat R3,6 miljoen in nuwe werkswinkelfasiliteite op sy 22 ha Leer-My-Hoe Proefplaas.

Die projek vir die nuwe Bosrand-fasiliteite is op 7 September 2026 tydens ’n projekloodsingsfunksie bekend gestel. Die ontwikkeling vorm deel van BKO se uitbreiding van sy infrastruktuur vir landbouopleiding.

Die projek is onder meer moontlik gemaak deur ’n testamentêre bemaking van die Koos en Miemie Trust aan Eendracht, wat ontwikkeling in Orania moontlik maak en bestuur. Orania Groeikrag, ’n filiaal van die Orania Ontwikkelingsmaatskappy, werk ook aan die projek mee.

Studente kry praktiese werkswinkel

Die Bosrand-ontwikkeling sal landboustudente toegang gee tot ’n toegeruste meganiese werkswinkel waar hulle praktiese vaardighede in ’n werklike landbou-omgewing kan aanleer en toepas.

Paul Vogel, uitvoerende hoof van BKO, sê dié praktiese ervaring is noodsaaklik om studente vir die werksplek toe te rus.

“Praktiese vaardighede is van ontsaglike belang om studente reg voor te berei vir die werksplek. Ons wil hê ons studente moet die werk self kan doen, probleme identifiseer en oplossings vind.”

Die meganiese werkswinkel beslaan 188 m² en is met baksteenmure toegebou en afgewerk. Die fasiliteit is hoofsaaklik vir BKO se Landboudepartement ontwerp, maar kan ook deur ander departemente as ’n lesinglokaal gebruik word.

’n Diensput sal studente in staat stel om voertuie van nader te ondersoek en daaraan te werk. Die gebou sal ook van dampverkoeling vir klimaatbeheer voorsien wees.

Die ontwikkeling behels verder ’n 60 m²-veeldoelige ruimte, 32 m² se nuwe ablusiegeriewe en ’n 100 m²-afdak aan die suidekant van die gebou. Die veeldoelige gedeelte kan as ontvangs- of onthaalruimte vir funksies benut word, terwyl die afdak ruimte vir praktiese aktiwiteite en buiteluggeleenthede bied.

“Hierdie ontwikkeling gaan oor meer as ’n nuwe werkswinkel – dit is ’n belegging in die manier waarop ons studente vir hul landbouloopbane voorberei. Ons wil ’n omgewing skep waar teorie en praktyk voortdurend met mekaar verbind word en waar studente die geleentheid kry om werklik hande vuil te maak,” sê Vogel.

Nuwe landboukwalifikasies van 2027

Die uitbreiding vind plaas terwyl BKO ook sy landbou-aanbod vergroot. Nuwe kwalifikasies sal volgens die instelling vanaf 2027 aangebied word.

Die doel is om teoretiese opleiding met uitgebreide praktiese ervaring op die Leer-My-Hoe Proefplaas te kombineer.

“BKO word die eerste keuse vir jongmense wat ’n loopbaan in landbou wil volg,” sê Vogel.

Van vyf tot meer as 250 studente

BKO is in 2019 met vyf studente gestig en het sedertdien tot meer as 250 studente gegroei.

Die instelling beskik tans oor vier koshuise, twee daghuise en 30 roepingsgedrewe personeellede, asook die 22 ha Leer-My-Hoe Proefplaas en Techika, BKO se tegniese kampus.

Die verdere ontwikkeling van die proefplaas en BKO se landbouprogramme vorm deel van die instelling se Snelrat 800-plan, waarmee beoog word om teen 2028 ’n studietuiste vir meer as 800 studente te skep.

Die ontwikkeling van Bosrand vorm deel van BKO se verdere uitbreiding van sy landbou-opleidingsinfrastruktuur en praktiese opleidingsaanbod.