Die landbougemeenskap van die Vrystaat treur oor die afsterwe van Tharina Terblanche (74), ’n vroueboer wat deur haar deursettingsvermoë en geloof ’n blywende merk op die plaaslike boerderybedryf gelaat het.
Terblanche is Maandag oorlede nadat sy aan ’n hartoperasie onderwerp is. Haar familie beskryf haar as ’n vrou wat haar naam met harde werk, moed en onwrikbare geloof in die Vrystaatse grond ingeploeg het.
Wat in 1987 as ’n beskeie onderneming van 1 200 hektaar begin het, het onder haar hand gegroei tot meer as 7 500 hektaar — ’n volskaalse bees-, saai- en hoenderboerdery met sowat 50 000 lêhenne. Sy het geglo in spanwerk, het haar mense met respek behandel en elke werker persoonlik geken.
Buite die lande was sy ’n toegewyde ouma en mentor. Haar drie kleinkinders, Korneels, Albert en Tharina, was haar trots en vreugde. “Sy was die hart van ons familie – altyd oop vir almal,” vertel haar familie.
Terblanche het ’n sterk geloof in die toekoms van Suid-Afrika gehad. “Ek wil ’n land sien waar mense saamwerk, waar die werkloosheid laag is en waar elkeen ’n verskil maak,” het sy dikwels gesê.
Haar dood het ’n groot leemte gelaat, maar haar nalatenskap van harde werk, geloof en menslikheid bly diep ingeploeg in die harte van dié wat haar geken het.
Terblanche se gedenkdiens vind op 5 November in die NG Kerk Vredefort plaas.