Die tweejarige Jana Steyn van Koster in Noordwes maak ’n merkwaardige herstel nadat sy ses maande gelede ernstig beseer is in ’n fratsongeluk op haar ouers se plaas.
Jana is Maandag vir ongeveer drie uur geopereer by Netcare Waterfall City-hospitaal in Midrand. Tydens die operasie is ’n titaanstruktuur in haar skedel geplaas nadat dit tydens die ongeluk ernstig beskadig is.
Die voorval het op 26 Augustus verlede jaar plaasgevind toe Jana agter haar pa, Shaun Steyn, se bakkie beland het. Hy was onbewus van haar teenwoordigheid toe hy oor haar gery het. Haar vierjarige boetie, Joshua, was op pad om saam met haar te speel.
Volgens haar ma, Kelly Steyn, het Jana ná die operasie vinnig begin herstel. Sy was vir drie dae in die waakeenheid en het antibiotika ontvang voordat sy reeds Woensdag ontslaan is.
“Die dokters was verstom oor hoe goed sy vorder. Hulle het selfs na haar as ’n klein wonderwerk verwys,” het Kelly gesê.
By die huis is Jana weer haar lewendige self. Sy hardloop rond, eet normaal en geniet dit om weer haar honde en selfs die plaas se bobbejaan raak te sien.
Volgens Kelly het Jana geen breinskade opgedoen nie en toon sy goeie vordering onder leiding van ’n arbeidsterapeut. “Sy het reeds haar mylpale bereik en begin al hoe meer soos ander kinders van haar ouderdom praat,” het sy gesê.
Hoewel daar aanvanklik groot kommer oor haar linkeroog was weens die erge beserings aan die linkerkant van haar gesig en skedel, is die oog ongedeerd.
Jana hoef ook nie meer die beskermende koptoestel te dra wat ná die ongeluk nodig was om haar brein te beskerm nie. Ná die aanvanklike operasie is beskadigde dele van haar skedel verwyder, en tydens dié prosedure is ook grond, gras en selfs ’n klip uit die wond verwyder.
Sy was vir vyf weke in ’n kunsmatige koma, waartydens haar ouers by haar bed gewaak en gebid het vir haar herstel. Die gesin het ook groot ondersteuning van familie, vriende en mense regoor die land ontvang.
Ná haar ontwaking het Jana vinniger as verwag herstel. Hoewel daar aanvanklik beplan is dat sy vir vyf weke rehabilitasie in Johannesburg sou ondergaan, kon sy reeds binne twee dae begin loop en is sy kort daarna huis toe.
“Ons is ongelooflik dankbaar. Ons kind het al so ver gekom,” het Kelly gesê.