Rolspelers in die landbou waarsku dat veediefstal wat ongestraf voortduur, ’n ontstellende toename in gewelddadige plaasaanvalle aanwakker.
In die jongste voorval is die boer Jan Dhooge doodgeskiet en sy vrou Elna ernstig beseer tydens ’n aanval op hul plaas in Schikfontein naby Heidelberg. Die gewapende aanvallers het vuurwapens, selfone en waardevolle items geroof.
Volgens AfriForum is vier plaasaanvalle binne ’n paar dae in die afgelope week aangemeld – ’n verontrustende teken van georganiseerde misdaad in die landbougemeenskap. In een van die gevalle in Heilbron is ’n boer doodgeskiet en sy vrou verkrag tydens ’n veediefstalaanval.
Jan van Niekerk, VF Plus-leier in die Vrystaat, waarsku dat aanhoudende veediefstal nie net ekonomiese skade aanrig nie, maar ook geweld op plase aanhits. “Wanneer georganiseerde veediefstal ongestraf bly, lei dit dikwels tot bloedige aanvalle op weerlose mense,” sê hy.
Verskeie dorpe in die Vrystaat is reeds as “rooi gebiede” vir plaasaanvalle en veediefstal geïdentifiseer. Van Niekerk doen ’n dringende beroep op die polisie om meer sigbaar te wees en samewerking met plaaslike veiligheidstrukture te versterk.
Hy voeg by dat boere en gemeenskappe moet saamstaan: “Tot dan moet inwoners binne die raamwerk van die wet hul eiendom beskerm en proaktief betrokke bly by landelike veiligheidsforums”.