Kaapstad maak gereed vir ‘n groot rugby-aand wanneer die All Blacks Vrydagaand voor ‘n verwagte skare van tienduisende toeskouers teen die DHL Stormers in die DHL-stadion in Groenpunt uitdraf.
Sowat 45 000 kaartjies is reeds vir die kragmeting verkoop. Die stadion het plek vir ongeveer 60 000 toeskouers.
Gina Woodburn, uitvoerende hoof van die DHL-stadion, sê daar heers groot opgewondenheid voor die wedstryd en dat ‘n groot skare verwag word.
Die kragmeting roep herinneringe op aan een van die bekendste wedstryde tussen ‘n Kaapse span en die All Blacks. In 1976 het Westelike Provinsie die Nieu-Seelanders met 12–11 geklop.
Volgens Woodburn heers daar besondere opgewondenheid oor die All Blacks se besoek aan die stadion. Die All Blacks is reeds verlede week tydens ‘n verwelkomingsgeleentheid in die stadion ontvang.
Vrydagaand se wedstryd sal ook die eerste geleentheid wees waar rugbyondersteuners die stadion se nuwe beligtingstelsel in aksie sal sien.
Die stadion se 15 jaar oue halogeen-vloedligte is met energiedoeltreffende LED-ligte vervang.
Volgens Woodburn het die ou halogeenligte sowat ‘n halfuur geneem om behoorlik op te warm, wat hulle minder energiedoeltreffend gemaak het.
Die opgradering maak ook nuwe vertoonbeligting moontlik, wat deel van Vrydagaand se vermaak sal vorm. Woodburn wou egter nie vooraf verklap presies wat vir die skare beplan word nie.
Sy het gesê die ligvertoning sal nie net vanuit die stadion sigbaar wees nie, maar ook vanaf High Level Road in Seepunt gesien kan word.
Die wedstryd vorm deel van die All Blacks se toer deur Suid-Afrika, wat as Rugby’s Greatest Rivalry bekend staan.
Die All Blacks sal gedurende die toer ook teen die Sharks, Lions en Bulls speel voordat hulle die Springbokke in ‘n reeks van vier toetse pak.