Die landbou-organisasie TLU SA het sy steun uitgespreek vir Solidariteit se hofaksie teen die Swart Ekonomiese Bemagtiging (SEB)-sektorkodes vir die regsberoep, wat tans in die Pretoria-hooggeregshof aangehoor word.
Solidariteit voer in die saak aan dat die betrokke kodes, wat rassevereistes stel vir onder meer eienaarskap en bestuursamestelling, onwettig en ongrondwetlik is. Volgens die organisasie skend dié bepalings fundamentele regte en plaas dit onbillike beperkings op ondernemings en individue binne die regssektor.
TLU SA meen die uitkoms van die saak strek veel wyer as slegs die regsberoep. Die organisasie waarsku dat soortgelyke beleidsmaatreëls reeds in ander sektore toegepas word en ook die landboubedryf raak. Volgens TLU SA kan die hofuitspraak dus verreikende gevolge vir die breër ekonomie hê.
Die hoofbestuurder van TLU SA, Bennie van Zyl, het benadruk dat raskodes en -kwotas nie ekonomiese groei bevorder nie, maar eerder druk en onsekerheid skep. Hy meen dat sulke beleide belegging kan afskrik en die volhoubaarheid van ondernemings in verskeie sektore kan ondermyn.
TLU SA hou vol dat ’n beleidomgewing wat gelyke geleenthede en regsekerheid bevorder, noodsaaklik is vir ekonomiese stabiliteit en groei in Suid-Afrika.