Die verhoor van die man wat daarvan beskuldig word dat hy die Amerikaanse konserwatiewe aktivis Charlie Kirk vermoor het, sal eers in Junie 2028 begin.

Regter Tony Graf het bepaal dat juriekeuring op 21 Junie 2028 sal begin. Altesaam 105 hofdae is vir die verhoor opsygesit.

Tyler Robinson (23) staan tereg op sewe aanklagte, waaronder moord met verswarende omstandighede, in verband met Kirk se dood op 10 September 2025 by Utah Valley University. Aanklaers het aangedui dat hulle die doodstraf sal eis indien hy skuldig bevind word. Robinson het onskuldig gepleit.

Kirk (31) is doodgeskiet terwyl hy tydens ’n byeenkoms op die universiteitskampus gepraat het. Hy was die stigter van Turning Point USA en het gehelp om jong konserwatiewe kiesers vir Donald Trump te mobiliseer.

Turning Point USA word sedert Kirk se dood deur sy weduwee, Erika Kirk, gelei.

Aanklaers het gesê hulle kon reeds teen Oktober 2027 gereed wees en het 31 Januarie 2028 as ’n praktiese begindatum vir die verhoor voorgestel. Robinson se regspan wou die verhoor eers in 2029 laat begin.

Die verdediging sê hulle het meer tyd nodig om tienduisende lêers en ander bewysmateriaal deur te werk en om voor te berei vir verskeie voorverhoor-aansoeke en ander kwessies wat met die moontlike doodstraf verband hou.

Graf sê die Junie 2028-datum probeer Robinson se reg op voldoende voorbereiding balanseer met die Kirk-familie se belang by ’n spoedige afhandeling van die saak.

Die Kirk-familie is egter ontevrede met die wagtyd. Erika Kirk se prokureur, Jeffrey Neiman, het gesê ’n verhoor byna drie jaar ná Kirk se dood voel nie vir die familie soos ’n spoedige proses nie.

Trump het verlede maand ook die tempo van die saak gekritiseer en gesê die verhoor behoort veel vroeër plaas te vind.

Volgens aanklaers het Robinson Kirk glo weens sy politieke oortuigings geteiken. Hulle beweer ook dat hy ná die skietery in teksboodskappe oor die aanval geskryf het.

Robinson se regspan het aangedui dat hulle onder meer DNA-bewyse, Utah se doodstrafwette en die vraag of ’n onpartydige jurie in Utah County saamgestel kan word, sal betwis.

Met 105 hofdae wat opsygesit is, kan die verhoor ongeveer vyf maande duur.