Rooibos is volgens ’n kennisgewing in die Staatskoerant nou as ’n geografiese aanduiding in Suid-Afrika geregistreer, wat beteken dat die naam beskerm word en aan die afgebakende produksiegebiede in die Wes- en Noord-Kaap gekoppel bly.

Die registrasie gee Rooibos plaaslik soortgelyke oorsprongsbeskerming as produkte soos Champagne en Parmaham in Europa, waarvan die name aan hul oorsprong en produksiegebied gekoppel is.

Die Suid-Afrikaanse Rooibosraad sê die nuwe status is ’n belangrike mylpaal vir die bedryf en versterk die beskerming wat Rooibos reeds internasionaal geniet.

Rooibos is reeds sedert 2021 in die Europese Unie as ’n beskermde oorsprongsbenaming geregistreer. Dit was die eerste Afrika-voedselproduk wat dié erkenning in die EU ontvang het.

Die beskerming beteken dat die naam Rooibos slegs gebruik kan word vir produkte wat aan bepaalde vereistes voldoen en waar die Rooibos in die aangewese gebiede verbou of wild geoes is.

Die naam Rooibos geniet reeds sedert 2013 plaaslike beskerming, terwyl dit vanaf 2016 ingevolge ’n handelsooreenkoms met die Europese Unie beskerming geniet het.

Die nuwe registrasie bring Suid-Afrika se plaaslike beskerming nader in lyn met dié wat Rooibos reeds internasionaal geniet.

Volgens die Rooibosraad sal die moontlike verlies van Suid-Afrika se toegang tot die African Growth and Opportunity Act (AGOA) nie op sigself ’n nuwe gewone invoertarief op suiwer Rooibos plaas nie.

Die raad sê suiwer, onverdunde Rooibos word tans teen ’n basiese invoertarief van 0% na die VSA uitgevoer, maar is onderhewig aan ’n afsonderlike tarief van 12,5%.

Volgens die Rooibosraad is die Verenigde State ’n gevestigde mark vir Suid-Afrikaanse Rooibos en verteenwoordig dit sowat 4% van die totale uitvoervolume.

Die raad sê ongeveer 427 ton Rooibos is in 2025 na die VSA uitgevoer, wat dit volgens sy syfers die land se sesde grootste uitvoermark vir Rooibos gemaak het.

Die Rooibosraad waarsku egter dat enige ekstra koste steeds druk op winsmarges, pryse en vraag kan plaas, veral vir individuele uitvoerders wat sterker op die Amerikaanse mark staatmaak.