Britanje staan op die punt om nóg ’n nuwe eerste minister te kry nadat Keir Starmer sy bedanking aangekondig het.
Die beleërde Arbeidersparty-leier het glo die afgelope naweek sy politieke toekoms saam met vertrouelinge bespreek voordat hy besluit het om die tuig neer te lê.
Sy vertrek beteken dat Brittanje binne tien jaar sy sewende eerste minister sal hê – iets wat ongekend is in die land se moderne politieke geskiedenis.
Selfs die Amerikaanse president, Donald Trump, het Starmer se naderende vertrek voorspel. Trump het Sondag op sy Truth Social-platform geskryf dat Starmer gaan bedank.
Die verhouding tussen die twee leiers het volgens berigte versleg ná meningsverskille oor die oorlog tussen die VSA, Israel en Iran. Trump het Starmer ook gekritiseer oor sy hantering van immigrasie en energiebeleid.
Andy Burnham, die burgemeester van Groot-Manchester, het reeds sy hand opgesteek om die Arbeidersparty oor te neem. Ná ’n onlangse verkiesingsoorwinning het hy gewaarsku dat die party sy laaste kans het om die vertroue van kiesers terug te wen.
Omdat die Arbeidersparty steeds ’n groot meerderheid in die parlement het, kan Burnham eerste minister word indien hy die leierskapswedloop wen.
Starmer se gewildheid het die afgelope maande skerp afgeneem. Meningspeilings toon dat baie kiesers ontevrede is met sy regering se prestasie.
Volgens berigte het hy die naweek saam met sy gesin by Chequers, die amptelike buitewoning van Britse eerste ministers, deurgebring terwyl hy sy volgende stap oorweeg het.
Senior regeringslede het glo ook toenemende druk op hom geplaas om opsy te staan. Meer as 100 Arbeidersparty-parlementslede sou hom volgens berigte versoek het om te bedank.
Starmer het in Julie 2024 die leisels oorgeneem, maar sy tyd as eerste minister is gekenmerk deur beleidsomkerings, politieke omstredenheid en die bedanking van verskeie ministers.
Een van die grootste kontroversies was sy besluit om Peter Mandelson as Brittanje se ambassadeur in Washington aan te stel. Mandelson se naam is in die verlede verbind met die ontslape seksoortreder Jeffrey Epstein, wat tot groot kritiek gelei het.
Die Arbeidersparty se swak vertoning in onlangse plaaslike en streeksverkiesings in Engeland, Skotland en Wallis het die druk op Starmer verder verhoog.
Burnham, wat voorheen ook ’n parlementslid en minister was, word nou as een van die gunstelinge beskou om die party se nuwe leier te word.
Volgens Britse media kan hy veranderinge aan sy kabinet aanbring indien hy die pos bekom, hoewel daar nog min bekend is oor sy beleid en planne vir die regering.