Ouers wat reeds onder druk is weens die hoë lewenskoste, kan in 2027 nóg dieper in hul sakke moet delf namate skole met stygende salarisse, munisipale tariewe en onderhoudskoste worstel.
Die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (FEDSAS) waarsku dat ’n verhoging wat bloot met inflasie tred hou, in sommige gevalle nie genoeg sal wees om skole se werklike kostestygings te dek nie.
FEDSAS gebruik die voorbeeld van ’n skool waarvan inkomste jaarliks met 5% groei, terwyl salarisse met 7% en munisipale koste met 10% styg. Ná vyf jaar sou inkomste met sowat 28% gestyg het, teenoor 40% vir salarisse en 61% vir munisipale dienste.
Volgens die organisasie kan dié verskil skole dwing om minder aan leermateriaal, onderhoud en leerondersteuning te bestee.
FEDSAS waarsku egter dat hoër bedryfskoste nie outomaties enige verhoging bo inflasie regverdig nie. Beheerliggame moet kan verduidelik watter koste die verhoging veroorsaak, waar besparings reeds gemaak is en waarom die ekstra uitgawes nodig is.
By openbare skole wat skoolgeld hef, kan die bedrag ook nie bloot deur die skoolbestuur bepaal word nie.
Volgens die Suid-Afrikaanse Skolewet moet voorgestelde skoolfooie aan ouers by ’n behoorlik saamgeroepte begrotingsvergadering voorgelê en deur ’n meerderheid van die ouers wat die vergadering bywoon, goedgekeur word.
Volgens Bronagh Hammond, woordvoerder van die Wes-Kaapse Onderwysdepartement, hef 498 openbare skole in die provinsie tans skoolgeld.
Sy sê die departement bepaal nie individuele skole se fooie nie, maar moet toesien dat die voorgeskrewe proses gevolg word.
Hammond sê ook 320 van die provinsie se kwintiel 4- en 5-skole is na vrywillige skole wat geen skoolgeld hef nie, omgeskakel.
Ouers wat nie die goedgekeurde skoolgeld kan bekostig nie, kan by die skoolbeheerliggaam om volle of gedeeltelike vrystelling aansoek doen.
Volgens die Wes-Kaapse Onderwysdepartement het 84 083 leerders in 2025 voordeel uit skoolgeldvrystellings getrek, teenoor 83 793 in 2024.
Die druk op skole én huishoudings het intussen tot waarskuwings gelei dat verhogings bekostigbaar moet bly.
Ekonoom Dawie Roodt het gewaarsku teen skoolgeldverhogings bo inflasie en gesê huishoudings sukkel reeds met hoër voedsel-, elektrisiteits-, vervoer- en behuisingskoste.
Hy meen skole moet eerder na beter doeltreffendheid en laer bedryfskoste kyk as om die volle finansiële druk op ouers af te skuif.
Andre de Bruyn, voorsitter van die Education Union of South Africa, het ook gewaarsku dat skole nie hul finansiële probleme bloot op ouers moet afskuif nie.
Volgens hom moet skoolbegrotings volhoubaar wees, maar verhogings moet redelik, deursigtig en sensitief vir die finansiële omstandighede van die gemeenskap wees.
Hy het ook gevra vir groter deursigtigheid, behoorlike konsultasie met ouers en meer billike staatsfinansiering om te voorkom dat die gaping tussen skole verder vergroot.
FEDSAS sê inflasie bly ’n nuttige maatstaf, maar elke skool se werklike koste, prioriteite en die vermoë van sy ouergemeenskap om te betaal, moet uiteindelik in ag geneem word.