Vier bemanningslede het Sondag veilig uitgeskiet nadat twee militêre straalvliegtuie tydens ’n lugskou in die lug gebots het naby die Mountain Home-lugmagbasis in Idaho.

Die twee E/A-18G Growler-stralers het sowat 3 km van die basis af gebots tydens die tweedaagse Gunfighter Skies-lugskou.
Volgens ’n woordvoerder het die botsing omstreeks 12:10 plaaslike tyd plaasgevind terwyl die vliegtuie besig was met ’n demonstrasie. Al vier bemanningslede kon veilig uit die vliegtuie ontsnap.

Die voorval word tans ondersoek, en owerhede sê meer inligting sal later bekend gemaak word.
Video’s op sosiale media wys hoe die vliegtuie in die lug bots en tol voordat hulle op die grond neerstort, wat ’n ontploffing en ’n groot wolk swart rook veroorsaak het. Vier valskerms kon gesien word wat afsak.

Die lugskou is ná die voorval gekanselleer, en die basis is afgesper terwyl nooddienste die toneel hanteer.
Die betrokke vliegtuie was deel van ’n vlooteskader wat in Washington gebaseer is.

’n Deel van ’n nabygeleë hoofpad is gesluit en sal vir ’n paar dae toe bly terwyl die ondersoek voortduur.