Die Turkse polisie het 47 mense in klopjagte op gay-kroeë en die huise van LGBTQ+-aktiviste aangehou tydens ’n regeringsveldtog wat volgens die Turkse owerhede daarop gemik is om gesinswaardes te beskerm.

Die optrede het die naweek in 12 provinsies plaasgevind as deel van die “My Family is Safe”-veldtog. Kaos GL, ’n organisasie wat hom vir LGBTQ+-belange beywer, was een van die teikens.

Volgens die hoofaanklaer se kantoor in Istanboel is 26 mense aangehou. Die polisie het ook op dwelms, digitale toerusting, gesmokkelde alkohol en ’n vuurwapen beslag gelê.

Nog 21 mense is volgens die hoofaanklaer se kantoor in Ankara aangehou in ’n ondersoek na Kaos GL. Dié organisasie beweer egter dat altesaam 50 aktiviste aangehou is, van wie meer as tien tydens klopjagte by hul huise.

Kaos GL sê verskeie webwerwe en sosialemediarekeninge wat met LGBTQ+-organisasies verbind word, is ook geblokkeer. Volgens die groep word hy daarvan beskuldig dat aanlyn plasings “obsene inhoud” bevat wat vir kinders toeganklik is. Die sluiting van Kaos GL se rekening op X en dié van sowat 15 ander LGBTQ+-organisasies is volgens die groep ook geëis.

Gesin sentraal in regeringsveldtog

Verhoudings tussen mense van dieselfde geslag is nie strafbaar in Turkye nie, maar huwelike tussen mense van dieselfde geslag word nie deur die land erken nie.

President Recep Tayyip Erdogan het hom reeds sterk teen LGBTQ+-mense uitgespreek. Hy het hulle voorheen as “perverte” beskryf en hulle met Turkye se dalende geboortesyfer verbind.

Die Turkse minister van justisie, Akin Gurlek, het gesê regstappe is reeds teen meer as 160 mense, asook verskeie organisasies en ondernemings regoor die land, ingestel. Hy het die optrede binne die regering se breër “Dekade van die Gesin”-veldtog geplaas, maar nie gesê hoeveel mense aangehou is nie.

Die Turkse Menseregtevereniging is krities oor die optrede en beskuldig die regering daarvan dat sy gesinsveldtog gebruik word om die LGBTQ+-gemeenskap te teiken. Die vereniging het dit as “staatsgedrewe diskriminasie, vreespolitiek en die aftakeling van die burgerlike samelewing” bestempel.