’n Kragonderbreking het Vrydag die hele eiland Jamaika getref, het die land se minister van energie, Daryl Vaz, aangekondig. Hy het egter geen rede vir die grootskaalse onderbreking verskaf nie.
“’n Eilandwye kragonderbreking,” het Vaz in ’n plasing op X geskryf.
Hy het gesê die elektrisiteitsvoorsiening sal na verwagting oornag geleidelik herstel word en dat sommige gebiede reeds weer krag ontvang.
“Alle kragstasies word tans weer aan die gang gesit,” het hy gesê.
Jamaika se nasionale elektrisiteitsverskaffer, die Jamaica Public Service Company, het in ’n verklaring gesê dat ondersoek ingestel word na die oorsaak van die kragonderbreking. Die verklaring is deur Vaz en die eerste minister, Andrew Holness, gedeel.
Vaz het gesê ’n deeglike ondersoek sal ingestel word na wat hy as ’n “onaanvaarbare kragonderbreking” deur die nutsmaatskappy beskryf het.