Suid-Afrika se sterk graanopbrengste vertel volgens TLU SA net ’n deel van die verhaal. Agter die goeie oes staan produsente wat die volgende plantseisoen met laer kommoditeitspryse, duurder insette en toenemende finansiële risiko moet aanpak.
Volgens Graan SA was mieliepryse in Januarie 2026 sowat 22% laer as ’n jaar tevore, terwyl die totale insetkoste verbonde aan mielieproduksie met ongeveer 19% gestyg het. In baie gevalle het plaasinkomste met byna die helfte afgeneem.
Meer as 80% van die insette wat vir graanproduksie gebruik word, word ingevoer en teen invoerpariteit geprys.
“’n Groot oes is nie noodwendig ’n winsgewende oes nie. Produsente moet vooraf betaal vir saad, kunsmis, diesel, chemikalieë, arbeid, herstelwerk, versekering en finansiering, maar hulle het geen beheer oor die weer, finale opbrengs of markprys nie,” sê Bertus van der Westhuizen, voorsitter van TLU SA Vrystaat.
Die dieselprysverhoging wat op 5 Augustus in werking getree het, het die druk op produsente verder verhoog.
Afhangend van die swaelinhoud het die groothandelprys van diesel met tussen R1,23 en R1,38 per liter gestyg.
TLU SA bereken dat dié verhoging alleen vir ’n produsent wat 50 000 liter diesel gebruik, ’n bykomende bruto uitgawe van ongeveer R61 700 tot R69 200 verteenwoordig.
Dit is voordat enige verdere veranderings in die koste van kunsmis, saad, chemikalieë of finansiering in berekening gebring word.
TLU SA sê Suid-Afrika se sterk produksie die afgelope seisoen moet nie bloot aan verbeterde kultivars toegeskryf word nie.
Volgens die organisasie is dit grootliks die gevolg daarvan dat boere doeltreffender en meer presies boer. Bemesting, gewasbeskerming, plantestand, grondbewerking en ander produksiebesluite word toenemend betyds, wetenskaplik en presies bestuur.
“Ons produsente het hul doeltreffendheid verbeter, maar daar is ’n beperking op hoeveel kostedruk en markrisiko deur beter bestuur geabsorbeer kan word. Wanneer die marge verdwyn, kan selfs ’n uitstekende boer nie onbepaald aanhou plant nie,” sê Van der Westhuizen.
TLU SA sê hy vra nie dat die regering die normale ondernemingsrisiko van boere moet oorneem of algemene finansiële bystand aan produsente moet bied nie.
Volgens die organisasie kan sulke hulp maklik aan politieke of transformasievoorwaardes gekoppel word wat druk op produsente se onafhanklikheid en eiendomsreg plaas.
Die organisasie doen eerder ’n beroep op landbouminister Willie Aucamp om sy invloed te gebruik om ’n meer mededingende en funksionele produksie-omgewing te help skep.
TLU SA vra onder meer dat die regering ’n deursigtige, billike en feitegebaseerde stelsel vir die berekening van JSE-liggingsdifferensiale ondersteun.
Die organisasie wil ook hê die departemente van landbou en handel, nywerheid en mededinging moet saamwerk om graanuitvoer, veral na markte in Afrika, uit te brei en handels- en logistieke struikelblokke te verminder.
Daarbenewens vra TLU SA dat die regering, in samewerking met die departement van minerale en petroleumhulpbronne, regulatoriese sekerheid oor die vermenging van biobrandstof bespoedig om private investering in etanol- en biobrandstofproduksie moontlik te maak.
Die huidige geskil oor liggingsdifferensiale vir sojabone wys volgens TLU SA hoe groot die finansiële uitwerking van ’n tegniese markmeganisme kan wees.
Graan SA raam dat die verskil tussen die veelvuldige en enkele verwysingspuntmetodes gemiddeld ongeveer R220 per ton kan beloop.
Oor die betrokke volumes en silopunte kan die totale waardeverskil volgens dié raming sowat R696 miljoen beloop.
Die ontwikkeling van ’n plaaslike biobrandstofbedryf kan terselfdertyd nuwe binnelandse vraag na surplusgraan skep, waarde toevoeg, investering in verwerking aanmoedig en werkgeleenthede in landelike gebiede ondersteun.
Van der Westhuizen waarsku dat die onmiddellike gevaar nie is dat Suid-Afrika môre sonder voedsel gaan wees nie. Die groter risiko is volgens hom dat die land se produksievermoë geleidelik verswak namate boerdery vir produsente finansieel moeiliker word.
“Die waarskuwing is nie dat Suid-Afrika môre sonder voedsel gaan wees nie. Die waarskuwing is dat produksievermoë geleidelik erodeer wanneer produsente minder plant, hul grond verhuur, bates verkoop of die bedryf verlaat omdat die risiko nie meer finansieel geregverdig kan word nie,” sê hy.
“Voedselsekerheid kan nie eers beskerm word wanneer ’n tekort ontstaan nie. Dit moet beskerm word terwyl boere steeds gewillig en in staat is om te plant.”
TLU SA sluit sy waarskuwing kernagtig af: “Voedselsekerheid begin nie op die supermarkrak nie. Dit begin by die plaashek.”