Suid-Afrikaners se brandstofrekening het die afgelope jaar skerp gestyg, met die groothandelprys van 50 dpm-diesel wat volgens die jongste syfers 53,8% hoër is as in September verlede jaar — sowat 12,5 keer soveel as die jongste algemene inflasiekoers van 4,3%.
Die jongste brandstofprysverhogings vir September het petrol met R1,34 per liter en diesel met tot R3,15 per liter duurder gemaak.
Die skerp styging kom te midde van die oorlog in die Midde-Ooste en gebeure rondom die Straat van Hormuz.
Die gevolge van duurder brandstof strek veel verder as motoriste se brandstofrekeninge. Hoër vervoerkoste kan deur die ekonomie versprei omdat feitlik alle goedere op die een of ander manier vervoer moet word.
’n Liter 95-oktaan loodvrye petrol kos in September 2026 R26,05 aan die kus, teenoor R20,72 ’n jaar gelede. Dit verteenwoordig ’n styging van 25,7% — byna ses keer die jongste algemene inflasiekoers van 4,3%.
In September 2021 het dieselfde brandstof R17,62 per liter aan die kus gekos. Dit beteken die prys het oor vyf jaar met R8,43 per liter gestyg.
Die prys van 93-oktaan loodvrye petrol in Gauteng het intussen van R18,15 per liter in September 2021 tot R21,47 in September 2025 en R26,76 in September 2026 gestyg.
Vir ’n motoris wat 40 liter 95-oktaan petrol ingooi, is die verskil duidelik: dié hoeveelheid brandstof het ’n jaar gelede sowat R829 gekos, teenoor R1 042 nou.
Dit is ongeveer R213 meer vir dieselfde hoeveelheid brandstof.
Die styging in dieselpryse is aansienlik groter.
Die groothandelprys van 50 dpm-diesel staan nou op R28,79 per liter, voordat die wisselende kleinhandelsmarge bygereken word.
’n Jaar gelede was die groothandelprys R18,71 per liter. Dit beteken diesel het binne ’n jaar met meer as R10 per liter, oftewel 53,8%, gestyg.
Dit is in persentasieterme sowat 12,5 keer soveel as die jongste algemene inflasiekoers van 4,3%.
In September 2021 het 50 dpm-diesel R14,92 per liter gekos. Die huidige prys is dus byna dubbel dié vlak.
Op grond van die genoemde groothandelpryse kos ’n aankoop van 70 liter diesel nou meer as R700 ekstra as ’n jaar gelede.
Die prys van 500 dpm-diesel het oor vyf jaar van R14,87 tot R28,24 per liter gestyg.
Brandon Cohen, voorsitter van die National Automobile Dealers’ Association (NADA), sê die jongste brandstofprysstygings wek groot kommer vanuit ’n inflasie-oogpunt.
“Hierdie stygings sal verdere druk op huishoudelike begrotings plaas en bedryfs- en verspreidingskoste regoor die ekonomie verhoog,” sê Cohen.
Veral die skerp styging in diesel kan die vervoerkoste van feitlik elke kategorie goedere, van voedsel tot ander noodsaaklike produkte, verhoog.
Dit kan ook verdere inflasiedruk veroorsaak en die Suid-Afrikaanse Reserwebank moontlik voor moeilike besluite plaas oor die vraag of rentekoerse by sy volgende Monetêrebeleidskomitee-vergadering onveranderd gelaat of verhoog moet word.
“Dit sal selfs meer druk plaas op Suid-Afrikaners wat reeds onder ernstige finansiële druk verkeer,” sê Cohen.
Dewald Ranft, nasionale voorsitter van die Motor Industry Workshop Association (MIWA), sê stygende brandstofpryse is ’n goeie herinnering dat bestuurstyl ’n betekenisvolle verskil aan ’n voertuig se bedryfskoste kan maak.
“Elke kilometer tel wanneer brandstofpryse styg,” sê Ranft. “Motoriste kan nie beheer wat met die prys by die pomp gebeur nie, maar hulle kan seker maak hul voertuig werk so doeltreffend moontlik en dat hulle nie onnodig brandstof mors nie.”
Hy waarsku motoriste ook teen sogenaamde brandstofbesparingstoestelle wat dramatiese vermindering in brandstofverbruik beloof.
“Daar is geen towertoestel wat skielik ’n voertuig se brandstofverbruik kan verander nie.”
Gereelde voertuigonderhoud kan volgens Ranft ’n verskil maak. Hy beveel ook aan dat motoriste harde versnelling en gereelde spoedveranderings vermy, banddruk gereeld nagaan, wiele korrek laat spoor, onnodige luiering vermy en ritte beter beplan.