Vyftig eiers wat vermoedelik aan ’n bedreigde papegaaispesie behoort, is by die OR Tambo Internasionale Lughawe in Johannesburg onderskep nadat ’n Thaise burger dit na bewering in ’n tuisgemaakte broeisak as handbagasie probeer smokkel het. Baie van die eiers het intussen suksesvol uitgebroei.
Die 50-jarige verdagte is verlede Donderdag in hegtenis geneem tydens ’n gesamentlike operasie waarby die departement van bosbou, visserye en die omgewing, die Groen Skerpioene en verskeie afdelings van die polisie betrokke was.
Volgens die departement dui die voorlopige ondersoek daarop dat die eiers aan ’n papegaaispesie behoort wat ingevolge die Konvensie oor Internasionale Handel in Bedreigde Spesies van Wilde Fauna en Flora (Cites) beskerm word.
Die spesifieke papegaaispesie is nie bekend gemaak nie.
Personeel van die Nasionale Dieretuin in Pretoria het onverpoos gewerk om die gekonfiskeerde eiers uit te broei en gespesialiseerde sorg aan die kuikens te verskaf.
Baie van die eiers het reeds suksesvol uitgebroei. Die kuikens ontvang nou intensiewe sorg om hul kanse op oorlewing so groot moontlik te maak.
Omgewingsminister David Maynier het die agentskappe wat by die operasie betrokke was, gelukgewens en die personeel van die Nasionale Dieretuin in die besonder bedank vir hul werk met die eiers en kuikens.
Volgens Maynier kan onwettige wildhandel slegs doeltreffend bekamp word deur gekoördineerde optrede ter beskerming van Suid-Afrika se natuurerfenis.
Indien die 50-jarige verdagte skuldig bevind word, kan hy ’n boete van tot R10 miljoen, gevangenisstraf van tot tien jaar, of albei opgelê word.
Die jongste voorval volg kort op ’n veel groter beslaglegging by dieselfde lughawe.
’n 23-jarige Thaise burger is in Julie by OR Tambo in hegtenis geneem nadat hy na bewering probeer het om 418 papegaai-eiers te smokkel.
Volgens die departement beklemtoon die twee voorvalle die toenemende gesofistikeerdheid van transnasionale wildsmokkelnetwerke en die belangrikheid van gekoördineerde, intelligensiegedrewe wetstoepassing.
Die onwettige versameling en smokkel van papegaai-eiers hou volgens die departement ’n ernstige bedreiging vir wilde voëlbevolkings en dierewelsyn in.
Sulke eiers word dikwels in geïmproviseerde broeikaste gesmokkel en onder omstandighede vervoer wat die welstand van ontwikkelende embrio’s en kuikens in gevaar stel.
Onwettige wildhandel bly ’n ernstige bedreiging in Suid-Afrika, een van die wêreld se mees biodiverse lande. Misdaadnetwerke teiken onder meer olifante en ietermago’s om op die internasionale swartmark verhandel te word.
Suid-Afrika het ses jaar gelede ’n strategie aanvaar om samewerking tussen staatsinstellings, wetstoepassingsagentskappe, bewaringsowerhede, doeane-amptenare, aanklaers en internasionale vennote te versterk.
Die doel daarvan is om misdaadnetwerke wat by die onwettige handel in wild betrokke is, te ontwrig.