EFF-leier Julius Malema is tot vyf jaar tronkstraf gevonnis in sy vuurwapensaak wat uit 2018 spruit.
Hy is gevonnis nadat hy skuldig bevind is aan die onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie, die afvuur van ’n vuurwapen in ’n beboude gebied, die versuim om redelike voorsorg te tref om persone of eiendom te beskerm, asook roekelose gevaarstelling van persone of eiendom.
Landdros Twanet Olivier het Malema reeds in Oktober verlede jaar skuldig bevind – sowat agt jaar nadat hy die vuurwapen tydens die EFF se vyfde bestaansviering by die Sisa Dukashe-stadion in Mdantsane afgevuur het.
Tydens die vonnisverrigtinge het sy regsverteenwoordiger aangevoer dat die skote slegs vir vieringsdoeleindes afgevuur is, en dat die vuurwapen kort daarna aan die eienaar terugbesorg is.
Volgens die verdediging was die vuurwapen en ammunisie slegs vir ongeveer ’n minuut in Malema se besit, en is daar geen bewyse dat hy die bedoeling gehad het om iemand te beseer of skade aan te rig nie.
Malema se medebeskuldigde en voormalige lyfwag, Adriaan Snyman, saam met wie hy aanvanklik aangekla is, is egter vrygespreek van twee aanklagte, naamlik die versuim om redelike voorsorg te tref om gevaar vir persone of eiendom te voorkom, en die verskaffing van ’n vuurwapen aan iemand wat nie gemagtig is om dit te besit nie.
Die hof het Malema ook onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit, en hy sal sy lisensie verloor.
Malema se regspan het intussen aangedui dat hulle teen die vonnis gaan appelleer.