’n Ooreenkoms tussen die Verenigde State en Iran om die konflik te beëindig is naby, en sluit ook die heropening van die Straat van Hormuz in, het Iran se minister van buitelandse sake gesê.
Seyed Abbas Araghchi het aan die staatsuitsaaier gesê die ooreenkoms behels ook die opheffing van die Amerikaanse blokkade teen Iran. Onderhandelinge oor Iran se kernprogram sal egter eers later begin.
Amerikaanse amptenare het sommige besonderhede van die voorgestelde ooreenkoms bevestig, maar beklemtoon dat enige ekonomiese voordele vir Iran afhanklik sal wees van Teheran se nakoming van die ooreenkoms.
Die oorlog het op 28 Februarie begin toe die VSA en Israel aanvalle regoor Iran uitgevoer het. Iran het daarop gereageer met aanvalle op Israel en Amerikaanse bondgenote in die Golfstreek, asook deur die Straat van Hormuz, ’n belangrike roete vir die vervoer van olie en vloeibare aardgas, feitlik te sluit.
Hoewel ’n skietstilstand in April bereik is, het die VSA en Iran sedertdien sporadies aanvalle op mekaar uitgevoer, insluitend twee rondtes vergeldingsaanvalle dié week.
Die Amerikaanse president, Donald Trump, het Donderdag gesê hy het beplande aanvalle teen Iran gekanselleer omdat onderhandelaars “’n uitstekende skikking” bereik het wat binnekort onderteken kan word.
Iranse media het Vrydag besonderhede van ’n beweerde 14-punt-ooreenkoms gepubliseer. Trump het egter gesê dié weergawe stem nie ooreen met wat werklik onderhandel is nie.
Pakistan se eerste minister, Shehbaz Sharif, wie se land gehelp het met bemiddeling, het later gesê die memorandum van verstandhouding tussen die VSA en Iran is reeds ooreengekom en wag net op afronding.
Volgens Araghchi is daar steeds voor- en teenstanders van die ooreenkoms binne Iran se Opperste Nasionale Veiligheidsraad.
“Vir nou moet ons wag. Indien dit goedgekeur word, sal die ooreenkoms op afstand onderteken word,” het hy gesê.
Israel neem nie deel aan die gesprekke nie. Die doel van die onderhandelinge is om die skietstilstand te verleng en gesprekke oor kernkwessies te begin.
Westerse lande beskuldig Iran al jare daarvan dat hy probeer om kernwapens te ontwikkel. Iran ontken dit en sê sy kernprogram is uitsluitlik vir vreedsame doeleindes soos elektrisiteitsopwekking en navorsing.
Amerikaanse amptenare het gesê die Straat van Hormuz sal heropen word in ruil daarvoor dat die VSA sy blokkade op Iranse skeepvaart ophef.
Daarna sal ’n onderhandelingstydperk van 60 dae volg wat hoofsaaklik op Iran se voorraad verrykte uraan sal fokus. Volgens die VSA moet dié materiaal uiteindelik vernietig en uit Iran verwyder word, hoewel die praktiese besonderhede nog uitgewerk moet word.
Die VSA het ook beklemtoon dat Iran nie vooraf finansiële voordele sal ontvang nie. In plaas daarvan sal sanksies geleidelik opgehef word namate Iran sy verpligtinge nakom.
Die ooreenkoms vereis verder dat Iran ophou om groepe soos Hezbollah en ander bondgenote in die Midde-Ooste te ondersteun.
Amerikaanse amptenare het beklemtoon dat die ooreenkoms op prestasie en verifieerbare optrede gebaseer sal wees, eerder as op vertroue.
Hoewel daar versigtige optimisme aan alle kante bestaan, waarsku waarnemers dat soortgelyke ooreenkomste die afgelope maande al verskeie kere naby voltooiing was voordat dit misluk het.
Araghchi het gesê hy bly hoopvol.
“Sodra die finale fases van die onderhandelinge afgehandel is, sal die ooreenkoms onderteken en aangekondig word. Dit kan binne die volgende paar dae gebeur,” het hy gesê.
Hy het beklemtoon dat die eerste punt van die memorandum die opheffing van die Amerikaanse vlootblokkade teen Iran is.
Wat die Straat van Hormuz betref, het Araghchi gesê die bestuur daarvan sal nie meer dieselfde wees as voorheen nie. Sedert Iran die seestraat gesluit het, moes skepe volgens Teheran ’n fooi betaal om deur te vaar, terwyl die VSA daarop aandring dat die roete vir alle internasionale skeepsverkeer vry moet wees.
Araghchi het ook gesê die memorandum maak voorsiening vir ’n einde aan die konflik tussen Israel en Hezbollah in Libanon. Daar is egter berigte dat dié kwessie moontlik nie deel van die finale ooreenkoms sal vorm nie.
Israel se eerste minister het intussen gewaarsku dat sy land Hezbollah sal aanval indien die groep sy aanvalle op noordelike Israel voortsit.