Swaar reën, hael, sterk wind en ’n skerp daling in die temperatuur word Maandag oor dele van die land verwag namate ’n afgesnyde laagdrukstelsel ongunstige weerstoestande meebring.
Die afgesnyde laagdrukstelsel beweeg volgens die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) oor die Wes-Kaap, Oos-Kaap en Noord-Kaap.
Kleinveeboere in die Wes- en Noord-Kaap word veral gemaan om voorsorg te tref. Onderbroke reën en donderbuie word verwag, met swaar neerslae in sommige gebiede. Die donderbuie kan ook met groot hoeveelhede klein hael en weerlig gepaardgaan.
Sterk wind hou verdere gevaar in
’n Geel vlak 2-waarskuwing vir skadelike wind geld vir die noordoostelike dele van die Noord-Kaap en die westelike dele van Noordwes. Die wind kan plaaslik skade aan formele en informele nedersettings en tydelike strukture veroorsaak.
’n Geel vlak 1-waarskuwing geld ook tussen Tafelbaai en Kaap Agulhas, waar sterk wind en hoë golwe navigasie kan bemoeilik en kleiner vaartuie kan laat omslaan.
Oorstromings kan plek-plek voorkom, terwyl sterk wind en ’n onstuimige see langs die kus verwag word.
Geen waarskuwings vir ’n hoë brandgevaar is uitgereik nie.
Terugspore/Pingbacks