PRETORIA – Sowat 1 000 atlete en ondersteuners het Saterdag by die Voortrekkermonument in Pretoria saamgetrek vir die 19de Leon Bezuidenhout Springbok Vasbyt, ‘n wedloop wat vanjaar hulde gebring het aan diere wat deur die jare saam met Suid-Afrikaanse soldate en polisielede diens gedoen het.
Die tema van vanjaar se geleentheid was Diere in Oorlog, met spesiale erkenning aan polisiesersant Tjaart Riekert en sy patrolliehond, Leeu, wat op 30 Maart 1972 in ‘n landmynontploffing in die Caprivi-strook gesterf het.
Die dag het begin met ‘n herdenkingseremonie waartydens Roché Vermaak en Wolfi, verteenwoordigers van Diere in Oorlog-veterane, ‘n krans gelê het. Daarna het hulle voor die deelnemers op ‘n motorfiets uitgery, voordat Nico-Chris Hattingh van die Suid-Afrikaanse Swartkruitvereniging die wegspring met ‘n kanonskoot ingelui het.
Die 21 km- en 10 km-wedlope het om 07:30 begin, waarna die 5 km-pretdraf gevolg het vir gesinne, kinders en ontspanningsatlete.
Die wedloop is vernoem na Leon Bezuidenhout, die stigter van die Springbok Vasbyt, wat in Augustus 2023 onverwags oorlede is.
Deelnemers het die uitdagende roete rondom die Voortrekkermonument aangepak, met sy steil bulte, skerp draaie en wisselende terrein. Die roete het verby verskeie bekende bakens op die erfenisterrein geloop, waaronder Fort Schanskop, die amfiteater, die militêre Muur van Herinnering en die historiese walaer rondom die Monument.
Die Springbok Vasbyt word reeds jare lank as een van Suid-Afrika se mees unieke wedlope beskou en is op talle hardloopforums as een van die land se beste wedloopervarings aangewys.
Die geleentheid is vanjaar weer as ‘n groen wedloop aangebied. Geen watersakkies is gebruik nie en deelnemers is aangemoedig om hul eie bekers, waterbottels of ander houers saam te bring om die natuurlike omgewing en die wild in die natuurreservaat rondom die Monument te help beskerm.
Die geleentheid is deur die Voortrekkermonument-draf-en-stapklub met die steun van verskeie organisasies aangebied.
Volgens Joep Joubert, voorsitter van die Voortrekkermonument-draf-en-stapklub, lê die besondere aantrekkingskrag van die Springbok Vasbyt in die kombinasie van natuurskoon, uitdagende terrein en betekenisvolle herdenking.
“Min wedlope in Suid-Afrika bied dieselfde kombinasie van natuurskoon, uitdagende terrein en ‘n betekenisvolle herdenking. Elke atleet wat oor die eindstreep draf of stap, neem nie net ‘n medalje huis toe nie, maar ook ‘n herinnering aan ‘n besonderse ervaring,” het Joubert gesê.
Vir baie deelnemers het die uitdagende roete sy naam gestand gedoen. Van elite-atlete tot die agteros moes diep delf om die eindstreep te bereik, terwyl die Springbok Vasbyt-medalje een van die mees gewaardeerde kleinode in enige hardloper se medaljeversameling bly.
Dawid Brand, Kultuurtuiste se bedryfshoof vir bemarking en kommunikasie, sê die geleentheid gaan oor meer as net sport.
“Daar is min plekke in Suid-Afrika waar atlete soveel kan beleef – van die asemrowende natuurskoon en uitdagende terrein tot ‘n diep gevoel van herinnering en verbondenheid. Die Springbok Vasbyt skep nie net medaljewenners nie; dit skep herinneringe en versterk die band tussen gemeenskap, geskiedenis en erfenis,” het Brand gesê.