Dele van Suid-Afrika is in ’n winterlandskap omskep nadat sneeuval en ysige temperature die begin van die winter aangekondig het.
Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) het gewaarsku dat sneeu in die noordoostelike dele van die Oos-Kaap ontwrigting kan veroorsaak.
Volgens die weerdiens sal ’n afsnylaagdrukstelsel, saam met ’n hoëdrukrug en baie lae vriesvlakke, ligte sneeu in sommige gebiede veroorsaak. Dit kan tot gevaarlike en ysige padtoestande in die Senqu-, Elundini- en Sakhisizwe-munisipaliteite lei.
Die KwaZulu-Natalse Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake (Cogta) het Vrydagoggend gesê dat hulle die ernstige weerstoestande in die provinsie noukeurig monitor.

Swaar sneeuval aan die Lesotho-kant van die Sanipas het daartoe gelei dat die roete onmiddellik gesluit is. Motoriste en reisigers uit KwaZulu-Natal wat na Lesotho wou reis, is aangeraai om hul reise uit te stel totdat die pas weer veilig verklaar word.

Benewens die sneeu het ’n storm ook skade aan huise in die uMlalazi Plaaslike Munisipaliteit aangerig. Owerhede hou die situasie dop en waarsku inwoners om versigtig te wees waar die weerstoestande gevaarlik bly