KAAPSTAD – ‘n Groep oudleerlinge van Bishops Diocesan College in Kaapstad het die skoolraad versoek om op te hou om die Pride-vlag gedurende Junie te hys en om slegs drie amptelike vlae op die skoolterrein te vertoon.
Die versoek kom van die Old Diocesan Committee (ODC), wat in ‘n brief aan die skoolraad aanvoer dat die vlagpale beperk behoort te word tot die Suid-Afrikaanse vlag, die Bishops-vlag en die St. George-vlag.
Volgens die ODC is dié standpunt met 10 stemme ten gunste en een onthouding aanvaar.
Die komitee voer aan dat die drie amptelike vlae die hele skoolgemeenskap verteenwoordig en geen bepaalde groep of standpunt verteenwoordig nie.
“Hierdie drie behoort aan ons almal. Hulle dra geen bepaalde groep of standpunt nie en vra van geen lid van die gemeenskap om kant te kies nie,” lui die brief.
Volgens die ODC plaas die vertoon van ander vlae, ongeag hoe verdienstelik die saak daaragter mag wees, die skool in die posisie om standpunt oor omstrede kwessies in te neem.
“‘n Skool wat daardie deur oopmaak, maak dit nie net een keer oop nie. Dit verbind hom daartoe om voortdurend te besluit watter sake deur vlae verteenwoordig word en watter nie, en om elkeen van daardie besluite teenoor ‘n gemeenskap te verdedig wat nooit heeltemal daaroor saamstem nie,” het die komitee gesê.
Die ODC beklemtoon dat sy beswaar spesifiek oor die Pride-vlag gaan wat die skool gedurende Junie, ook bekend as Pride-maand, hys.
Hoewel die komitee in sy brief sê dat gay en lesbiese persone welkom is, voer dit aan dat die beste manier om ondersteuning en aanvaarding te toon nie deur die hys van ‘n vlag is nie.
“Die boodskap wat hierdie seuns behoort te hoor – dat hulle welkom is, veilig is en deel van die skoolgemeenskap is – moet direk deur die skool se optrede en eie stem oorgedra word. Dit dra meer gewig as ‘n vlag wat die vraag laat ontstaan: ‘Wie se vlag is volgende?'” lui die brief.
Die ODC voer aan dat die vertoon van vlae wat met omstrede kwessies verbind word, die skool in openbare debatte intrek en sy rol as ‘n instelling vir die hele skoolgemeenskap kan bemoeilik.