Die 85-jarige Saag Jonker, ’n bekende sakeman en volstruisboer van Oudtshoorn, is dood nadat sy voertuig deur die Olifantsrivier meegesleur is toe hy ’n laagwaterbrug buite die dorp probeer oorsteek het.
Jonker en sy Toyota Land Cruiser is Sondagmiddag 27 September deur die rivier meegesleur by ’n laagwaterbrug sowat 3 km buite Oudtshoorn.
’n Grootskaalse soektog is daarna van stapel gestuur. Polisieduikers het Maandag na Jonker begin soek nadat die watervlak genoeg gedaal het om die soektog moontlik te maak.
Duikers het die Olifantsrivier gefynkam, terwyl plaaslike inwoners met ’n kano en ’n visopsporingstoestel gedeeltes van die rivier ondersoek het. Hommeltuie is ook gebruik om plekke wat moeilik bereikbaar was, vanuit die lug te deursoek.
Jonker en sy bakkie is uiteindelik in die rivierloop gevind. Sy seun, Morné, het bevestig dat sy pa in sy bakkie gevind is.
Jonker se liggaam en bakkie is sowat 300 m van die brug in die rivier gevind nadat ’n sterk stroom die voertuig meegesleur het.
Bekende figuur in volstruisbedryf
Jonker was afkomstig van die Klein-Karoo en het as jong man as vereverkoper begin werk. Hy het later direkteur by die Klein-Karoo-landboukoöperasie geword en het deur die jare ’n gevestigde rol in die streek se volstruisbedryf gespeel.
Selfs op 85-jarige ouderdom was hy steeds aktief by die bedryf betrokke. Laubscher Coetzee van die Kandrift-boerdery buite Oudtshoorn sê Jonker het nog die week voor sy dood ’n afspraak gemaak om oor volstruisvere te praat.
Volgens Coetzee was Jonker besonder kundig oor volstruisvere en bereid om vir gehaltevere te betaal. Hy het ook steeds vergaderings oor die bedryf bygewoon en belangstelling in die ontwikkeling van die volstruisbedryf plaaslik én in die buiteland getoon.
Jonker het volgens die beskikbare inligting selfs op gevorderde ouderdom lang werksdae gehandhaaf en was onder meer betrokke by verebemarking, die sortering en verwerking van vere, boerderybedrywighede en die aankoop van vere.
Ook ’n kranige rugbyspeler
Benewens sy sake- en boerderybelange was Jonker in sy jonger jare ’n voorste rugbyspeler. Hy het vir SWD op agsteman uitgedraf en in 1967 aan die Springbokproewe vir die reeks teen Frankryk deelgeneem.
Coetzee beskryf hom as ’n bekende figuur in die Klein-Karoo wat tot laat in sy lewe nou by die volstruisbedryf betrokke gebly het.