PROVO, UTAH – Aanklaers het verlede week aangevoer dat die getuienis teen Tyler Robinson (23), wat daarvan beskuldig word dat hy die konserwatiewe politieke aktivis Charlie Kirk verlede jaar vermoor het, “oorweldigend” en “verpletterend” is. Robinson se verdediging het egter tydens die vyf dae lange voorlopige verhoor die staat se video-, DNS- en ballistiese getuienis probeer bevraagteken.
Die voorlopige verrigtinge het nie gehandel oor Robinson se skuld of onskuld nie, maar of daar voldoende bewyse bestaan om hom op aanklagte, insluitend moord met verswarende omstandighede, te verhoor. Dié aanklag kan die doodstraf meebring indien hy skuldig bevind word.
Volgens aanklaers het kringtelevisiebeeldmateriaal, DNS-getuienis, teksboodskappe en ‘n video-onderhoud met Robinson se voormalige woonstelmaat en romantiese lewensmaat, Lance Twiggs, ‘n duidelike beeld geskets van Robinson se bewegings voor en ná die skietdood van Kirk op 10 September 2025.
Kirk (31), medestigter van Turning Point USA, bondgenoot van die Amerikaanse president Donald Trump en pa van twee kinders, is een keer in die nek geskiet terwyl hy ‘n skare op die kampus van Utah Valley-universiteit toegespreek het.
Die verdediging het egter die staat se saak op feitlik elke punt betwis en aangevoer dat getuienis, DNS-ontledings en ballistiese bevindings nie onbetwisbaar is nie. Robinson het nog nie ‘n pleit ingedien nie.
Volgens aanklaers wys toesigkamerabeelde hoe Robinson ure voor die skietery op die kampus rondgeloop, by Chick-fil-A geëet en met verteenwoordigers van Turning Point USA kontak gehad het.
Later dieselfde dag, volgens die staat, het hy in ander klere na die kampus teruggekeer voordat hy na die dak van die Losee-sentrum beweeg het. Ondersoekers beweer Kirk is van dié dak af, sowat 126 meter van die verhoog af, doodgeskiet.
Die hof het gehoor dat Robinson ná die skietery in teksboodskappe aan Twiggs geskryf het dat hy sy oupa se geweer in bosse naby die kampus versteek het.
Toe Twiggs hom vra of hy die skut was, het Robinson volgens die aanklaers geantwoord: “Ek is. Ek is jammer.”
Op die vraag waarom hy Kirk geskiet het, het Robinson volgens die teksboodskappe geskryf: “Ek het genoeg gehad van sy haat. Sommige haat kan nie wegonderhandel word nie.”
Volgens forensiese getuienis wat deur die staat voorgelê is, is die geweer later teruggevind en is Robinson se DNS op sowel die vuurwapen as die handdoek waarin dit toegedraai was, gevind. Die verdediging het egter die interpretasie en betroubaarheid van dié DNS-getuienis betwis.
Die hof het ook foto’s gesien van patrone en koeëls waarop boodskappe gegraveer is, waaronder: “Hey Fascist! Catch!”
Twiggs het in sy opgeneemde verklaring gesê Robinson het die dag ná die skietery gehuil en gesê hy wens hy het dit nie gedoen nie.
“Hy het ‘n bietjie begin huil en gesê hy wens hy het dit nie gedoen nie,” het Twiggs gesê.
Volgens Twiggs het Robinson later besluit om homself aan die polisie oor te gee. Die hof het gehoor hy het die volgende dag saam met sy ouers en ‘n familievriend by die Washington County-balju se kantoor aangemeld, waarna hy in hegtenis geneem is.
Die verdediging het volgehou dat verskeie stukke getuienis bevraagteken moet word en het die betroubaarheid van die forensiese ontledings en die interpretasie van die bewyse tydens lang kruisondervragings getoets.
Albei partye moet nou skriftelike betoë indien. Finale argumente word op 1 September aangehoor, waarna regter Tony Graf sal bepaal of daar voldoende gronde bestaan om Robinson voor ‘n jurie te laat verhoor.
Ná afloop van die verrigtinge het Kirk se familie gesê niks sal ooit die verlies van hul geliefde Charlie ongedaan maak nie.